Ouma Ans se weggooigoed

Ek praat netnou met my pa. Dit gaan goed met hom. Hy het uiteindelik sy gout-voet tot ‘n mate onder beheer. Daar’s feitelik nie ‘n pil in oom Marius se apteek wat hy nog nie probeer het nie. Dit het nogsteeds nie gereën nie. Verder gaan dit goed. Makkieplaas se donkie brand al vir vier dae aaneen aan ouma Ans se uitsmytgoed.

Hoe so, wil ek nuuskierig weet.

Ons tannie Elsa van Upington het onlangs ‘n familie-whatsapp groepie begin. Die groepie se naam is OUMA ANS PLANNE, met ‘n foto van ouma Ans. Die groepie is gestig omdat Ouma moes skuif van haar Kakamas woonstelletjie na haar nuwe lewe in Upington, in die ouetehuis in ‘n lieflike kamer naby ‘n lieflike stoep. Iemand moes Ouma se goedjies kom sorteer en in bokse pak. Ouma se goed moes verdeel word want Ouma se nuwe blyplek is veel kleiner as die klein waar sy haar nou bevind.

Tannie Elsa en tannie Kotie gaan pak op. Ek dink daar gaan baie lag en huil en rooiwyn in die oppak naweek. Hulle post aanhoudend ou foto’s waarop hulle afkom. Hulle spog met hul jeugdigheid. Foto’s verklap dat onse ouma Ans ‘n sexy moeder van ses was op haar dag. Met die jongste van ses nog op die heup lyk Ouma na iemand wat beslis moes crossfit of weighless om SO te lyk.

Terug by Ouma se opgaargoed. Soveel joghurthouertjies het hy nog nie bymekaar gesien nie, sug my pa. En daai plastiekbakkies waarin ‘n mens druiwe koop – seker so by die honderd as hy nou so uit die vuis moet skat. Hy sê Ouma se goed het hom laat herbesin oor sy opgaargoed. Hy en my Marietjie-sussie het mos ‘n ernstige streep van Ouma se opgaardery weg.

As Ouma se goed klaar gebrand het sal hy sy str@nt begin sorteer en brandsteek. Hy wil ons wragtig nie eendag los daarmee nie.

EK lag lekker.

My pa se stoor was nog altyd sy heiligdom waarin hy kon opgaar en omkrap na hartelus. So af-en-toe het my ma ‘n draai gaan maak en dan baie kommentaar gelewer. Dus sou hy altyd na een van haar onaangekondigde besoeke begin regpak. Tannie Marinda is baie gawer. Sy laat my pa begaan. Dus hoef ek nie die stand van sake te verduidelik nie. Sy scrapyard het die laaste agt jaar met geweldige grootte en tempo toegeneem. Net anderdag het hy nog gespot dat hy maar deesdae vir mense sê die stoor en scrapyard wat klipgooi van die huis is behoort nie aan hulle nie. Dis staatsgrond.


Ek raai dit gaan veel langer as vier dae neem om daai "staatsgrond" te orden…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep