Posts

Showing posts from April, 2011

Muffins: Trots Suid-Afrikaans

Image
My heel eerste suksesvolle muffins kom van ‘n uitgeskeurde resep in die Huisgenoot. Dit was ‘n maklike reseppie en die hele gesin het baie beïndruk daaraan gesmul. Later jare het ons byne elke tweede Sondagaand gesondheidsmuffins gehad vir aandete. Ek sou die muffins bak en dan die t.v-kamertafel vol pak met lekker goed vir saam met die muffins. My ma het altyd Bovril en kaas op hare geëet. Ons kinders het sommer ‘n verskeidenheid op ons onderskeie helftes geplak. “Crunchie” grondboontjiebotter is natuurlik hoog op my lysie. Dan het ons natuurlik ook baie biltong daarmee saam geëet. So baie biltong dat die groot dors jou later sou kraan toe jaag! In die winter was die muffins voor die t.v. Somertyd kon ons eet en kuier in die tuin rondom die tuintafel. Dis dus heeltemal te verstane dat ek onlangs na drie weke in die vreemde, aan ontrekkingssimptome begin lei het. Ek moes gesondheidsmuffins iewers kry. Die Engelse ken nie ons volkoringmuffins nie. Hier kry jy net “blueberry muffin

'n Boesmanlander kook Thai

Image
Ek besluit om Maandag na die paasfeesvieringe my hand aan Thaise hoender te waag. Nou vir iemand wat nog nooit eens self vantevore Thai-hoender geëet het nie mag dit dalk ietwat gewaag wees. Waar daar egter ‘n wil is, is daar ‘n weg. Ek kry die lekker Thai-resep agter op die verpakking van die pakkie waarin al die nodige bestanddele netjies in kompartemente lê – die kon ek vir ‘n appel-en-‘n ui by ons naaste supermark, Tesco’s koop. Terwyl Martelize oggendversoeke oor RSG aanbied, begin my groot waagstuk. Die heerlike, dog vreemde reuke van opgekerfde gemmer, knoffel en koljander vul ons hele leefvertrek. Ek verlekker my behoorlik in die fees van reuke waaraan ek glad nie gewoond is nie. Genadiglik is die reseppie eenvoudig en ek deel dit maar te graag: Kerf die chillie, koljander en knoffel saam op. Meng dit meng growwe sout en braai ongeveer 1min lank in ‘n bietjie olie. Voeg daarna die baba uitjies, baba mielies, vars boontjie en ertjiepeule by en braai vir ‘n verdere 2min

Tulpe en "worries"

Image
Vandag is die goeie Vrydag waarop ons Here Jesus vir ons aan ‘n kruis gehang het… Ek gaan draf vanoggend baie vroeg. Dit voel asof die hele Engeland nog rustig slaap. Dis egter ‘n pragtige oggend. Ek sien hoe die son perfek rooi en rond oor lande en lande grasgroen loer. Die vet, wollerige skape slaap nog rustig onder die bome. Die grootsheid van die oomblik gaan my nie verby nie en ewe skielik weet ek dis tyd om vir Theuns en Silwer de Lange in my ore eers stil te maak. Ek voel die behoefte aan dankie sê. Jesus was goed vir my. Baie goed. Klipgooi van ons huisie af is die oulikste park. Ek besluit om sommer daar ook ‘n swik te gaan maak. Tulpe groei sommer so wild onder die bome. Ek word natuurlik opnuut betower deur die wonder van blomme wat Jesus sommer so wild laat groei. Veral drie wit-en-pienk tulpe vang my oog. Vader, Seun en Heilige Gees. So simbolies. Op daardie moment begin speel Bob Marley Three little birds op my ipod. Don’t worry about a thing Cause everyth

Doughnuts op straat

Niggie Anneen van Upington, woon en werk al byna drie jaar saam met haar man, Jurgens, hier in Engeland. Hulle weet al hoe om treinkaartjies te koop en boeke uit te neem by die biblioteek. Anneen waag al haar hand aan Thai-kos en sy weet wat rysnoodles is. Sy skrik nie meer as iemand op straat met haar ‘n Engelse gesprek aanknoop nie. So is ek dus uit my nate toe Anneen besluit om op die trein te spring en by my in Stamford te kom kuier. Die Woensdag besluit ons tweejies om Peterborough te gaan verken. My man laai ons al vroegmôre by die stasie af. Dis aanvanklik so koud dat ons wasem blaas wanneer ons praat. Ons gaan soek dus sommer dadelik ‘n knus koffieplekkie, Costa, op vir ietsie warms. Ek verwarm myself met ‘n Mocha terwyl Anneen besluit op ‘n lekker gesonde broodjie. Teen teetyd is ons weer honger. Koue het mos die swak manier om mens gedurig honger te maak! Ons neuse lei ons na ‘n vrolike rooi-en-wit stalletjie wat doughnuts verkoop. Jy betaal £1.50 vir 10 baie klein doug

"Faith" in Engeland

Gisteroggend staan ek op met ‘n nuwe vasberadenheid. Ek besluit dat ek heeldag nie my mond aan kos sal sit nie. As my maag gor, sal ek bid. Ek sal nou ‘n werk biddend van die Here afsmeek – amper soos vroue in die Bybelse tyd kinders van die Here afgesmeek het. My bybelvers vir die oggend is toe niks anders as: Daarom sê ek vir julle: Alles wat julle in gebed vra, glo dat julle dit reeds ontvang het, en dit sal so vir julle wees. Mar. 11:24 Ek gaan stap vroegoggend in Burghley Park en verstom my oor die vreemde mistigheid wat oor die park hang. Dis vroegoggend en die skape met hul onnatuurlike dik wol, lê en slaap nog rustig. Ek loof die Here vir die mooi. En heelpad vra ek mooi vir ‘n wonderwerk. Werksoek maak mens mislik en wanhopig. Dit kou aan jou selfbeeld en laat jou wonder oor jou deugde. Ek kan nie meer nie. Teen teetyd gor my maag al kwaai. Ek maak ‘n sopkom tee en ignoreer die gegor. Dan trek ek my beste denim, my nuwe wit-en-swart gestreepte H&M hempie met my

Ek leef van krummels

Met my taspak in Suid-Afrika, kon ek nie help om te wonder hoeveel vriende mens verloor as jy so 'n tydjie jou land verlaat nie. Die lewe gaan tog aan in Suid-Afrika. Jou vriende trou, kry babatjies, maak ander vriende. Die seisoene kom en gaan, die politieke klimaat verander, die werksgeleenthede raak minder en misdaad meer. En iewers mis jy als omdat jy in Engeland sit. My vrese was totaal ongegrond. Seisoene gaan wel kom en gaan. Werksgeleenthede raak minder en huise duurder, maar familie en vriende wat die naaste aan ons hart lê, gaan nêrens nie. Hulle dra jou hier in die vreemde. Deesdae geniet ek elke dag 'n epos van Wilma af saam met my oggendkoffie en kaasbroodjie. Sy sms gou uit Checkers wat sy vir die Vrydagaand spyskaart beplan. Ek weet onmiddelik as iemand haar dag bederf het of as daar iets is waaroor ek saam met haar kan bid. Wanneer die vier mure van my huisie te nou raak en ek lus kry vir gesels, is Wilma my klankbord. Sy bly ook op haar knieë vir die verl

Koffietyd in die UK

Nou raak ek onverskillig waaghalsig. Vanaand drink ek ‘n ekstra glas wyn op myself, of altans my oorlewingsinstink. Ek’s alleen biblioteek toe. Natuurlik moes ek my naam en van vir die biblioteektannie met die pers t-hemp en rooi hare spel – en sy kon dit na my spelling steeds nie uitspreek nie. Hier in Engeland maak Suné Coetzee net vir niemand sin nie! Iedergeval, my nostalgie dryf my na die kookboeke. Sonder om twee keer te dink glip ek die Coffee and bites uit die rakke. Die koue weer laat my immers daagliks ‘n ongesonde hoeveelheid koffie drink. Die eerste hoofstuk bespreek verskillende soorte koffies in die fynste besonderhede. Ek soek egter tevergeefs na die moerkoffie wat my pa twee maal ‘n dag so versigtig en sekuur in ons ou blou koffiefles maak. Die koffiefles wat van altyd af in die kas langs die stoof gebêre is. Daardie koffie word dan deur ons rooi melksiffie gegooi om die ergste moer te stuit. My pa drink syne soet en swart. Myne is weer versuip met melk, sonder suike