Doughnuts op straat

Niggie Anneen van Upington, woon en werk al byna drie jaar saam met haar man, Jurgens, hier in Engeland. Hulle weet al hoe om treinkaartjies te koop en boeke uit te neem by die biblioteek. Anneen waag al haar hand aan Thai-kos en sy weet wat rysnoodles is. Sy skrik nie meer as iemand op straat met haar ‘n Engelse gesprek aanknoop nie.

So is ek dus uit my nate toe Anneen besluit om op die trein te spring en by my in Stamford te kom kuier.

Die Woensdag besluit ons tweejies om Peterborough te gaan verken. My man laai ons al vroegmôre by die stasie af. Dis aanvanklik so koud dat ons wasem blaas wanneer ons praat. Ons gaan soek dus sommer dadelik ‘n knus koffieplekkie, Costa, op vir ietsie warms. Ek verwarm myself met ‘n Mocha terwyl Anneen besluit op ‘n lekker gesonde broodjie.

Teen teetyd is ons weer honger. Koue het mos die swak manier om mens gedurig honger te maak! Ons neuse lei ons na ‘n vrolike rooi-en-wit stalletjie wat doughnuts verkoop. Jy betaal £1.50 vir 10 baie klein doughnuts. Dan kan jy nou besluit tussen doughnuts met suiker, of suiker en kaneel of karamel of sjokoladesous.

Die oom wat die doughnuts maak en verkoop loop nie juis oor van vriendelikheid nie. Hy lyk Grieks of iets. Die dat hy toe nou glad nie beïndruk is dat ons nie kan besluit wat ons oor ons doughnuts wil hê nie! Terwyl Anneen die verskillende opsies elkeen staan en oorweeg, kom sy stem so half kwaai: “ Mam, this is only doughnuts. Don’t make it complicated.”

Anneen vererg haar so dat sy summer besluit op helfte sjokoladesous en helfte suiker. Met ons wegstap begin ek giggel.

Hoe baie doen ons dit nie. Dikwels kompliseer ons doughnuts. Ons maak berge van molshope. Ons soek iets moeilik in iets wat veronderstel was om maklik te wees.

As ek dus deesdae voor ‘n besluit staan hoor ek my dikwels vir myself sê: “Suné, dis net doughnuts.” Moenie dit kompliseer nie.

Comments

  1. hahaha! Daai broodjie van my was nie so gesond nie hoor! Mooi les en ek sien dit in. . . maar dit kom nie so maklik vir my nie!
    Toodles

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep