Koffietyd in die UK

Nou raak ek onverskillig waaghalsig. Vanaand drink ek ‘n ekstra glas wyn op myself, of altans my oorlewingsinstink.

Ek’s alleen biblioteek toe. Natuurlik moes ek my naam en van vir die biblioteektannie met die pers t-hemp en rooi hare spel – en sy kon dit na my spelling steeds nie uitspreek nie. Hier in Engeland maak Suné Coetzee net vir niemand sin nie!

Iedergeval, my nostalgie dryf my na die kookboeke. Sonder om twee keer te dink glip ek die Coffee and bites uit die rakke. Die koue weer laat my immers daagliks ‘n ongesonde hoeveelheid koffie drink.

Die eerste hoofstuk bespreek verskillende soorte koffies in die fynste besonderhede. Ek soek egter tevergeefs na die moerkoffie wat my pa twee maal ‘n dag so versigtig en sekuur in ons ou blou koffiefles maak. Die koffiefles wat van altyd af in die kas langs die stoof gebêre is. Daardie koffie word dan deur ons rooi melksiffie gegooi om die ergste moer te stuit. My pa drink syne soet en swart. Myne is weer versuip met melk, sonder suiker.

Die boek bestaan uit drie dele: Oggendkoffie, namiddagkoffie en aandete koffie. Ek kan natuurlik nie wag om te sien watter bites saam met hierdie koffies bedien word nie.

Met koffieboek onder die arm haas ek my dus huistoe. Ek maak my gemaklik op ons wit leerbanke met koffieboek, lekker koffie en skoonma se diep lekker muesli beskuit.

Saammet ons oggendkoffie ken ek vars boerbrood met dik, geel plaasbotter, heelvye en kaas daarop. Soms was daar vars volgraan muffins met ekstra neute en rosyne daarin. Hierop moet jy die botter so dik plak dat jou tande merke in die botter los.

Die Engelse ken dit blykbaar nie. My Coffee and bites wys resepte van platbrood met salmon en crème fraîche. Dit vertel van roosterbrood met gesmelte sjokolade daarop, of franse brood met room en konfyt. Daar’s selfs ‘n prentjie van volgraanbrood met skyfies gesnyde perskes daarop.

Ek hoor al my pa se mond as my ma een van bogenoemde in die plek van sy boerbrood, sult en kaiings moes voorsit!

Vir die gesellige namiddagkoffie stel my boek onder andere banoffi pies (vreeslik ryk met sjokolade, toffiesous, kondensmelk en piesang!), mokka muffins of namiddag “toasties” met kaas en sampioene daarop voor. Banoffi pies is so ‘n fraai naam. Die naam wil-wil mens aan konfyttertjies of lepelsteeltjies of Hertzoggies dink!

Geen woord word egter gerep oor karringmelk of boerbeskuit nie. Daar’s geen resep vir lang, maer mosbeskuite nie. Die Engelse het nog nooit gehoor van soet skuinskoek met flentertjies anys daarin nie. Ek wonder of hulle al ‘n vars piesangbroodjie met dik margarine daarop saam met ‘n namiddagkoffie probeer het? Of ‘n snytjie sjokoladekoek met gekaramaliseerde kondensmelk versier? My ma het gewone kondensmelk altyd in ‘n swart kastrolletjie in die sonstoof gekook. Heeldag in die sonstoof het gewone kondensmelk heerlik gekaramaliseer. Ai, en dan was my pa nie bietjie trots op hierdie spaarsamige poging van my ma nie! En my ma kon die vinnigste, lekkerste sjokoladekoek so in die mikrogolf bak – in haar enigste skelrooi ringkoek mikrogolf koekpan.

Ek blaai nuuskierig na laataand happies. Blykbaar is daar niks soos pistachio koekies of biscotti saam met jou laataand koffie nie. Jy kan ook gekaramaliseerde balletjies of hokey pokeys (Dit word gemaak van suiker en koeksoda) bedien saam met jou laaste koffie van die dag.

Ek soek verniet na tannie Lee se fudge en rice krispie koekies.  Die Engelse het ook nog nie Top Deck sjokolade ontdek nie. Dis seker waarom hulle nie sal weet hoe lekker ‘n blokkie of twee of drie Top Deck sjokolade saam met ‘n middernagkoffietjie is nie. My beste voorstel vir ‘n middernagkoffie hou ek natuurlik vir laaste: ‘n Krakerige, stroopsoet koeksister.

Op hierdie noot gaan maak ek sommer vir my nog ‘n koffie, want van ordentlike bites saammet koffie weet die Engelse klaarblyklik nog nie baie nie!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep