"Faith" in Engeland

Gisteroggend staan ek op met ‘n nuwe vasberadenheid. Ek besluit dat ek heeldag nie my mond aan kos sal sit nie. As my maag gor, sal ek bid. Ek sal nou ‘n werk biddend van die Here afsmeek – amper soos vroue in die Bybelse tyd kinders van die Here afgesmeek het.

My bybelvers vir die oggend is toe niks anders as:
Daarom sê ek vir julle: Alles wat julle in gebed vra, glo dat julle dit reeds ontvang het, en dit sal so vir julle wees. Mar. 11:24

Ek gaan stap vroegoggend in Burghley Park en verstom my oor die vreemde mistigheid wat oor die park hang. Dis vroegoggend en die skape met hul onnatuurlike dik wol, lê en slaap nog rustig. Ek loof die Here vir die mooi. En heelpad vra ek mooi vir ‘n wonderwerk.

Werksoek maak mens mislik en wanhopig. Dit kou aan jou selfbeeld en laat jou wonder oor jou deugde. Ek kan nie meer nie.

Teen teetyd gor my maag al kwaai. Ek maak ‘n sopkom tee en ignoreer die gegor. Dan trek ek my beste denim, my nuwe wit-en-swart gestreepte H&M hempie met my swart serp aan en stap na ons naaste Recruitment Agency.

Matthew ontvang my gul – ek vermoed hy moet ongeveer my pa se ouderdom wees. Ons gesels heerlik. Wonder bo wonder slaan ek nie eens sweet op my voorkop uit soos al die ander kere wanneer ek in ‘n Engelse gesprek is nie.

Ek stap daaruit en voel so trots op myself – en die Here ewig dankbaar oor Mathew. Oppad huistoe stap ek verby ‘n handvol coffeeshops. Dan sien ek ‘n advertensie in die coffeeshop naaste aan ons huis se venster. Dis ongeveer so 30sek. se stap van ons huis af. Die plek se naam is Frothy. Ek skraap my laaste moed bymekaar en stap in…

Ek gaan julle nie met besonderhede verveel nie, maar 20min later stap ek daar uit met ‘n werk, drie dae per week. Die geld is baie min, maar die eienaars, Richard en Louise is dierbaar. Dit het kompleet gevoel of ek aangestel is as MD van ‘n besigheid.

Ek’s die Here ewig dankbaar! Gisteraand het ek en my man Kentucky en vonkelwyn gehad om dit te vier.

Die wonderwerk stop nie hier nie…Sondag het ons, ons nommers by die kerk opgegee om by ‘n selgroep aan te sluit.

Hier teen 17:00 kry ek ‘n oproep van Tanya. Sy wil ons nooi na hul selgroep, vanaand om 19:30.

Na lank gesels vra sy waarvandaan ons kom en wat ons storie is. Ek verduidelik klaerig dat ek van Suid-Afrika is en dat al die Engels ens regtig vir my ‘n aanpassing is. Sy begin lag. Tanya is toe al die tyd van Durban en haar man van Zimbabwe. Hulle verstaan Afrikaans perfek, maar kan dit net nie self praat nie. Hulle nooi ons toe sommer om bietjie vroeër te kom dat ons ‘n braaitjie kan maak voor die selgroep! Hulle het ‘n Suid-Afrikaanse butcher in hul omgewing ontdek.

Ek voel vanoggend huilerig. Hoe goed kan die Here tog vir mens wees! Mens moet net nie ophou glo nie. My sussie, Marietjie, het net voor ons vlug hierheen so ‘n fraai sleutelring met ‘n blou blommetjie daarop as geskenk aan my gegee. Op die sleutelring staan: Faith.

En van Faith gaan Engeland my waarskynlik nog baie leer…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep