Muffins: Trots Suid-Afrikaans

My heel eerste suksesvolle muffins kom van ‘n uitgeskeurde resep in die Huisgenoot. Dit was ‘n maklike reseppie en die hele gesin het baie beïndruk daaraan gesmul.

Later jare het ons byne elke tweede Sondagaand gesondheidsmuffins gehad vir aandete. Ek sou die muffins bak en dan die t.v-kamertafel vol pak met lekker goed vir saam met die muffins. My ma het altyd Bovril en kaas op hare geëet. Ons kinders het sommer ‘n verskeidenheid op ons onderskeie helftes geplak. “Crunchie” grondboontjiebotter is natuurlik hoog op my lysie. Dan het ons natuurlik ook baie biltong daarmee saam geëet. So baie biltong dat die groot dors jou later sou kraan toe jaag!

In die winter was die muffins voor die t.v. Somertyd kon ons eet en kuier in die tuin rondom die tuintafel.

Dis dus heeltemal te verstane dat ek onlangs na drie weke in die vreemde, aan ontrekkingssimptome begin lei het. Ek moes gesondheidsmuffins iewers kry. Die Engelse ken nie ons volkoringmuffins nie. Hier kry jy net “blueberry muffins”, “chocolate muffins” en “caramel muffins.” Ek was later radeloos gesoek.

Einde ten laaste besluit ek om self hand aan die ploeg, of altans stoof, te slaan. Ek’s so gelukkig om die mooiste kookboek van my skoonma Elize te ontvang – en besluit toe dus om sommer hierdie kookboek in te span.



My man slaap nog toe ek die eerste baksel muffins in die oond steek – ordentlike volkoringmuffins met handevol pekanneute, ‘n snertsie appel en ‘n gerasperde wortel. Teen die tyd dat my man uit sy oggendstort klim, hang die reuk van varsgebakte muffins soos ‘n wolkie oor ons huis. Sy ontbyt gisteroggend is toe niks anders as varsgebakte muffins, nog louwarm uit die oond, saam met kaas en botter.


So met die baklus in my sisteem, besluit ek om sommer nog ‘n paar piesangmuffins, asook rosyntjie-en-neutmuffins ook te bak. Teen teetyd staan al wat ‘n oppervlak is toe onder muffins. Ek proe en eet aanmekaar – dan met ‘n smeerseltjie botter, dan ‘n snertsie grondboontjiebotter.

Na die muffins goed afgekoel is pak ek so ‘n paar sakkies met muffins wat ek gisteraand vir die onderskeie “couples” vat in ons bybelstudie groepie. Dis mos was ons Suid-Afrikaners doen – jy bak en deel uit. Jy slag ‘n bees en stuur ‘n stukkie van als vir jou buurman. Jy pluk ‘n handjievol van jou mooiste blomme vir jou hartseer buurvrou. Jy deel altyd ‘n bietjie van jou beste.


Op elke sakkie plak ek ‘n briefie: “South African muffins. Made with love. Have them with butter and cheese.”

Want vanoggend was my muffins my heel beste...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep