Ek leef van krummels

Met my taspak in Suid-Afrika, kon ek nie help om te wonder hoeveel vriende mens verloor as jy so 'n tydjie jou land verlaat nie. Die lewe gaan tog aan in Suid-Afrika. Jou vriende trou, kry babatjies, maak ander vriende. Die seisoene kom en gaan, die politieke klimaat verander, die werksgeleenthede raak minder en misdaad meer.

En iewers mis jy als omdat jy in Engeland sit.

My vrese was totaal ongegrond. Seisoene gaan wel kom en gaan. Werksgeleenthede raak minder en huise duurder, maar familie en vriende wat die naaste aan ons hart lê, gaan nêrens nie. Hulle dra jou hier in die vreemde.

Deesdae geniet ek elke dag 'n epos van Wilma af saam met my oggendkoffie en kaasbroodjie. Sy sms gou uit Checkers wat sy vir die Vrydagaand spyskaart beplan. Ek weet onmiddelik as iemand haar dag bederf het of as daar iets is waaroor ek saam met haar kan bid. Wanneer die vier mure van my huisie te nou raak en ek lus kry vir gesels, is Wilma my klankbord. Sy bly ook op haar knieë vir die verlange en werksoek van my aan hierdie kant.

Dit sou natuurlik die ideaal wees om oorkant haar te sit met 'n koffietjie en so te kuier, maar iewers langs die pad raak selfs die flenterjies wat jy wel het, baie kosbaar.

Marne laat weet af-en-toe vinnig 'n sinnetjie of twee nuus uit haar lewe. My sussie Marietjie, wat tegnologies taamlik gestremd is, vat 'n heeldag om haar eie eposadres te skep sodat ons eposse kan stuur. Na haar eerste epos sms sy bekommerd of 'n epos dan R30 kos...duidelik het sy iets verkeerd gedoen!

Tannie Alba laat weet Boesmanlandnuus en stuur die lekkerste sopresep daarmee saam. Nico stuur vakansienuus uit Hartenbos en laat my skaterlag.

Lyndi bel uit Belgie en gee raad - sy ken van vreemd wees in 'n ander man se land. "Sunetjie, ek weet daar's op hierdie oomblik 'n stukkie papier in jou sak met jou selfoonnommer daarop. Leer dit uit jou kop en smyt die velletjie papier weg."

Ek maak dadelik so.

Anneen kom kuier met die trein en gee ook baie kwaai en beslis raad. "Praat met die mense. Vra vragies. Wees dikvellig. Hierdie is anderster soort mense. Dis nie ons mense nie."

Georgie sien my nuwe kussings wat ek op 'n straatmark gekoop het en laat weet sy dink ek het baie goeie smaak. Corieta laat weet gereeld hoe dit ook in haar lewe gaan.

Briefies uit Suid-Afrika het kosbaarder as ooit geraak. Dis soos reën in die Boesmanland. 'n Kleinood, 'n seën, my lewensaar...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep