Tulpe en "worries"

Vandag is die goeie Vrydag waarop ons Here Jesus vir ons aan ‘n kruis gehang het…

Ek gaan draf vanoggend baie vroeg. Dit voel asof die hele Engeland nog rustig slaap. Dis egter ‘n pragtige oggend. Ek sien hoe die son perfek rooi en rond oor lande en lande grasgroen loer. Die vet, wollerige skape slaap nog rustig onder die bome.

Die grootsheid van die oomblik gaan my nie verby nie en ewe skielik weet ek dis tyd om vir Theuns en Silwer de Lange in my ore eers stil te maak. Ek voel die behoefte aan dankie sê. Jesus was goed vir my. Baie goed.

Klipgooi van ons huisie af is die oulikste park. Ek besluit om sommer daar ook ‘n swik te gaan maak. Tulpe groei sommer so wild onder die bome. Ek word natuurlik opnuut betower deur die wonder van blomme wat Jesus sommer so wild laat groei.

Veral drie wit-en-pienk tulpe vang my oog. Vader, Seun en Heilige Gees. So simbolies.



Op daardie moment begin speel Bob Marley Three little birds op my ipod.

Don’t worry about a thing
Cause everything is gonna be alright
Rise up this morning
Smile with the rising sun

En op hierdie goeie Vrydag bring Jesus die mooiste boodskap – terwyl ek ver van alles is wat my so na aan die hart lê. Daar het bloed gevloei sodat ek nie meer oor enigiets hoef te worry nie.

Of Jesus ook hier in Engeland is waar baie mense paaseiers eet en Easter vier terwyl hulle nie ‘n idee het waaroor dit gaan nie? Jesus woon in harte, nie plekke nie. Ons kan net bid vir hierdie mense dat hulle die ware, wonderlike betekenis sal leer ken van Easter, voor dit verewig te laat is.

En nou kan ek nie wag om my man te gaan wakkermaak met ‘n hot cross bun en koffie nie – sodat ons saam kan dankie sê vir die grootste geskenk wat iemand ons nog ooit kon gee.

‘n Lewe.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep