Die swart gat - en hoe om uit te kom.


Sondag bel ek my middelsus. Ek bel hier vanuit my diep en donker gat, laat ek haar weet. “Kry vir jou ‘n projek. “ Dis haar antwoord op enige probleem. Projekte hou mens se kop besig. Daar’s nie tyd vir projekte nie, wil ek gil. Ek leer my kinders. Ek voed my gesin. Ek hou die huis skoon en ordelik.

Maar ek’s te ordentlik om op my sussie te gil. Ek antwoord bloot dat ek ‘n projek het. Ek verdiep myself in boeke oor positiewe denke – van Dr. Caroline Leaf wat positiewe denke wetenskaplik bedink, tot Joyce Meyer wat positiewe denke vanuit die bybel beredeneer.

Marietjie begin lag. “Jou projek werk duidelik nie. Kry iets anders.”

Dis ‘n nuwe week en ‘n nuwe kans. Verlede week het ek die stryd teen my denke lelik verloor. Ministers se uitsprake en/of toesprake, sosiale media en koerante het my dieper in my swart gat gehelp. Dit raak ‘n vreeslike donker plek as jy nie vinnig saam met ‘n vriendin iewers ‘n koffie kan drink en sommer net lag oor alles nie.

Ek en Lambrecht het die naweek gisteraand afgesluit met ‘n belangrike besluit: Ons gaan harder probeer om positief te kyk, te dink en te praat. Dit moenie net ‘n wildsbesluit wees nie. Dit moet ‘n hartsbesluit wees. Ons sal saans oor ‘n glasie wyn gesels oor ons bekommernisse oor die pad vorentoe in ons land. Ons kinders moet nie eens weet van hierdie gesprekke nie!

Ons wil kinders grootmaak wat lief is vir God en op Hom hul vertroue stel. Kinders wat kreatief en emosioneel intelligent is. Kinders met maniere en dankbaarheid in hul hart. Ons sê beslis nie ons kry dit reg nie. Maar dis waarheen ons werk. Dis hoe ons kinders ‘n lewe gaan gemaak kry in Suid-Afrika. NIE as ons hul van kleins af gif voer oor ons land Suid-Afrika nie.

Verder gebeur daar iets anders vanoggend wat regtig iets in my hart kom draai. Maralé, die vrou wat ons kerk se kinderkerk hanteer stuur ‘n liedjie aan wat ons vir ons kinders moet speel sodat hulle sommer bietjie kan  “praise & worship.” Vanoggend, 9h in ons kombuis, sing en dans ek en die Coetzee-kindertjies hierdie liedjie drie maal deur.

En iets in my hart draai.

Wat is my plan vir hierdie week? Ek tik dit uit. Ek is mos mal oor ‘n lysie. Ek sal die skakel van die storie vir Marietjie en Marli aanstuur. Spesiaal. (Ek reken my sussies konkel oor my gemoedstoestand. As hulle so dieselfde tyd in die oggend ‘n stemboodskap stuur sommer om te hoor hoe dit gaan, weet ek...)

  1. Neem Shaun the Sheep op en kyk dit daagliks. (Marietjie se raad.) Skape maak ons plaasmeisies mos gelukkig!!!
2.       Oefen soveel as wat jy kan tussen 6 & 9h elke oggend (Ons verdeel die tyd regverdig tussen my draf, manlief se fietsry en die kinders se stap.)
3.       Drink elke aand iets terwyl jy kyk hoe die son oor die berge wegsak. Dis immers ‘n voorreg. As die wyn op is, maak gemmerbier of pynappelbier.
4.       Maak my vol met God se waarheid en beloftes. Te veel feite uit die wêreld laat mens voel asof iemand jou wurg!
5.       Dans hierdie liedjie ten minste twee maal ‘n dag. Ek MOET hard saamsing en voluit dans. 
  


My “projek” vir die week lyk doenbaar. Ek’t die inperking ingegaan met GROOT planne, dromerig en entoesiasties soos eie in my aard. Ek sou gewig verloor, baie lees, saans goeie musiek luister oor ‘n glasie wyn.

Nou wil ek net anderkant Korona uitkom...wyser, dankbaarder, positiewer. Met al my varkies steeds op hok!

Comments

  1. Sune ek het geen nuus gekyk en vir my Netflix gekry. Verder het ek baie halwe hekel en breiwerk klaargemaak. Maar moet nie vergeet nie ek het net so baie begin ook

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep