Coetzee-kuier in die veldhuisie
Ek
bedink eers lank die regte woorde voor ek my pienk rekenaartjie oopslaan vir
skryf. Mens moet immers sag omgaan met woorde as jy wil vertel van veldstil dae
en naghelder sterre.
Vir ‘n
langnaweek gaan span ons en ons Somerset-Wes Coetzee-familie uit in die hartjie
van die Boesmanland in my pa en tannie Marinda se nederige veldhuisie. Ons moet
selfone, internet, DSTV en elektrisiteit by die huis los. Die kinders pak net
emmertjies en grafies en ou klere vir in die Boesmanlandse sand en klippies
speel.
Saans
maak ons vuurkos. Die eerste aand is ek en Lambrecht aan diens. Ons braai vleis
en roosterkoek met bottelslaaie. Ek het eers lank gewik-en-weeg oor die
bottelgoed. Deesdae is bottelgoed mos aanvaarbaar as jy dit by ‘n deli koop met
‘n fênsie etiket. Mense bottel nie meer self in hul eie huise nie. En toe smul
ons almal aan my huisinmaakgoed – tannie Marinda se beet en my ma se noedelsaai
met ‘n prikkie. Vrydagaand is Micha en Van Heerden se beurt. Ons braai weer.
Hulle bederf ons met vars slaai en heerlike groenmielies.
Wat het
ons bedags gedoen? Soggens het ons in die bed gebly tot die son ons rondom half
7 uit die bed skyn. Dan het Van Heerden die lekkerste koffie gemaak, met
beskuit daarby vir ontbyt. Die res van die oggend het ons gestap, gesit en lees
in die son. Of sommer net niks gedoen nie. Ja, absoluut niks. Terwyl die
kinders in die stof speel dat net hulle ogies blink. Nina is ‘n wonderlike
verantwoordelike niggie en sy het voltyds ‘n ogie gegooi oor haar aansienlik
wilder boetie en niggie!
Saans
het ons die vuur in die skerm aangesteek en rondom daardie vuurtjie gekuier tot
net vaal kole oor was.
Ons het
die kinders ook een maal na Makkiesplaas se werf geneem om die diere te
versorg. Ons het Luca, Nina en Amé in die skaapkraal ingevat om hanslammers
melk te gee. Nina het eiers uitgehaal in die hoenderhok en sy het ook wortels
uit die tuin vir die hasies gevoer. Makkiesplaas se werf is ‘n diereparadys vir
enige kind!
Saterdagaand
was ons laaste veldhuisie aand. My Marietjie-sussie en haar Stan-man het saam
kom potjiekos maak. My pa, tannie Marinda en Nasya en Abré het ook kom
saamkuier. Van Heerden was in beheer van die potte. ‘n Hoenderpot en ‘n
vleispotjie. Ons weet almal dat Van Heerden eenvoudig passievol is oor kosmaak.
Hy stel ons glad nie teleur nie. My pa proe iets anders in die hoenderpot en
Van Heerden vertel van sy komyn geheim. Sy vleispot het ‘n bietjie Marokko. En
ons almal smul!
Marietjie
en Stan maak ‘n reuse potbrood waaroor mens maar kan huistoe skryf. Ten spyte
van die grootte, maak Stan hom perfek gaar met net so die nodige kooltjies. Ons
bedien botter en konfyt saam met die broodjie. Nie geblikte konfyt of mooi
konfyt uit ‘n padstal nie. Dis regte konfyt uit Marietjie en tannie Marinda se
kombuise.
Heelwat
later eet ons sjokoladekoek en koffie langs die vuur vir poeding.
Sondagmôre
gaan groet ons vir oupa André, ouma Marinda, tannie Marietjie en Nasya en oom
Stan en Abré. Ons gee ook ‘n laaste vet drukkie vir niggie Anmari. Net voor ons
ry sien ek Oupa loop hand-aan-hand met sy kleinkind skaapkraal toe. Toe ons by
Klawer haar skoentjies uittrek is dit net skaapmis en kraalsand. Nie ‘n
aangename reuk in ons motor nie!
Dit laat
my sommer weer met ‘n glimlag dink aan klein Nina wat so handevol
skaapdrolletjies in die veld opgetel het vir saamvat. Ek dink ons vat almal
iets saam huistoe na hierdie naweek…dis nou buiten die skaapmis en kraalsand.
Die
Boesmanland het die manier om jou te laat herbesin oor jou prioriteite in die
lewe. Dit maak alles in jou stil. Dit laat jou weer hóór…
Amen op daai laaste sin! Klink soooo lekker die kuier! .. . . en die kos!!!!! Hoop nie die skerpioene het jul weer gepla soos toe ons laas daar was nie!
ReplyDelete