Kruisies vir 'n beter toekoms

Vanoggend het my duimnael 'n swartstrepie. Ek is so trots daarop. Gister het ek my eerste kruisie getrek. Waar was ek die ander kere? Ek weet sowaar ook nie. Ek dink ek was selfsugtig en onverantwoordelik. Hierdie keer moes ek gaan stem. Vir Amé en ons ander kinders wat nog moet gebore raak. En hulle kinders. En hulle kinders se kinders... Want die Coetzees en Nelle is bittereinders wat nog lank in Afrika sal wees.

Die eerste demokratiese verkiesing was 20jaar gelede. Ek was in St.1 en kan uit die aard van die saak nie veel van daardie verkiesing onthou nie. Ek onthou net die uitsending van die verkiesing daardie aand. Mandela het met 'n uitbundige glimlag sy stembriefie in die boks gegooi. Ek onthou nog hoe ek daardie aand by my ma wou weet of sy dink hy het vir homself gestem. As ons vir klaskapteine stem, en jy is genomineer stem jy immers nooit vir jou self nie.

My ma het lank stilgebly, en toe het sy bekommerd geantwoord: "Hy het beslis vir homself gestem Surra." My ma se antwoord was regtig 'n skok.

As jy tien jaar oud is verstaan jy niks van apartheid nie. Jy is net deel daarvan. Sharika was die eerste bruin meisie in ons klas. Ek onthou daardie tyd in St.2 soos gister. Vandag voel ek so skaam. Ek wens ek kan haar eendag raakloop en om vergifnis vra. Ons was so lelik. Niemand wou langs haar in die klas sit nie. Niemand wou haar boek uitdeel nie. Sharika was een van die gaafste mense wat ek nog ontmoet het. Juf. Cathy het dit uitstekend hanteer. Sy het ons houdings nie geduld nie. Sy was ferm. Sharika was nou deel van ons en ons sou haar so hanteer. Punt.

Kleinsus Marli was 'n vrygeborene. Ek onthou my onsteltenis toe sy vir ou Tina agter KVK se till tannie noem in haar Sub.A jaar. Sy kon nie verstaan waarom die ouer bruin dame nie tannie is nie. Waarom was sy net Tina? Sy is dan ouer en mens noem ouer mense mos tannie! Ek kon dit ook nie daardie dag verduidelik nie. Dit is soos dit is, was my antwoord kwaai.

Vanoggend 7-uur was ons in die ry by Wellington se laerskool. Ons het sommer daarheen gestap. Ek het 'n lang ry verwag en het vir Amé provitas, kasies en joghurt ingepak vir lekker piekniek. Ons kon voor in die ry gaan staan met ons uitbundige kleinding. Dit was vining verby. Ek en Lambrecht het gehigh five oppad uit. Ons was trots op onsself.

Ons laaik Suid-Afrika. Ons wil hier kinders grootmaak en eendag aftree. Ons wil hier begrawe word. Dis ons hartsland. Vandag het ons kruisies 'n verskil gemaak. Soos baie ander sin.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep