Baie Trots Suid-Afrikaans

Tannie Marinda, die tannie waarmee my pa nou getroud is, kom van Zimbabwe. Haar pa was van die eerste boere wat inhegtenis geneem is in Zimbabwe. Hy moes ‘n sel deel met een van sy plaaswerkers wat sy mielies gesteel het.

Maar oupa Jan het tot sy dood in Zimbabwe gebly, want hy het gesê die wiel gaan nog draai in Zimbabwe. En dit wil hy nie mis nie. Hy was werklik ‘n volksman, want meer van vaderlandsliefde sal jy seker moeilik kry.

Ek kan nogal warm onder die kraag raak wanneer Suid-Afrikaners in die buiteland vertel hoe bly hulle is dat hulle veilig en vredevol liewer elders in die wêreld woon. Hulle basuin dit selfs uit aan ons wat willens en wetens in ons gevaarlike land vasbyt. Nee dankie, ons wil dit nie hoor nie.

Ek het nie ‘n probleem met mense wat oorsee woon nie. Regtig. My skoonouers en skoonsuster-hulle woon almal oor die waters. My skoonmense stuur foto’s van hul pragtige wintertuin aan. Skoonma luister permanent RSG. Soretha vertel gereeld nuus van hul twee pragtige kinders, Josua en Ella-Mae. Ons geniet dit baie. Hulle is almal daar omdat dit die beste vir húlle is in terme van geleenthede. Dit maak heeltemal sin. Elke keer wanneer hulle kom kuier sien ek die verlang. Nie ‘n slegte woord oor hul wortels nie. Hulle is steeds mal oor Suid-Afrika.

Ek was ook aan die anderkant van die draad. Dit was hemels om ver ente in die veld buite Stamford, Engeland te gaan stap. Ek was byna nooit bang nie. Ons het nie diefwering of alarms gehad  nie. Ons kon ook nie vir ‘n langnaweek wegglip Makkiesplaas toe vir asemskep in die vlaktes nie. Ons kon nie gaan vakansiehou in Strandfontein saam met familie nie en my laatlam sussie kon nie vinnig op die Interkaapbus spring vir kuier by ons nuwe huis nie. Géén lui namiddag braaie by Micha en Van Heerden op hul droomstoep sodat die niggies en nefies lekker kan kuier nie.

Ons het wonderlike vriende in Engeland gehad. Ons het heerlik saam met my skoonouers gekuier. Maar daar’s geen prys of waarde te koppel aan Afrikaans leef in jou eie land saam met  byna jou hele familie en wonderlike vriende nie.

 Die wiel is besig om te draai in Suid-Afrika. En soos oupa Jan sê, dít wil ek nie mis nie. Afriforum vra in hul internetadvertensie…Wat het jy gedoen vir jou land?

Ek bly hoop. Ek bly glo. Ek bly – Trots Suid-Afrikaans hier aan die Suidpunt van Afrika.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep