Die funeral planner


Ongeveer vyf jaar gelede moes ons my ma se begrafnis reël. Daar is deesdae gidse en boeke vir gewig verloor, ‘n gelukkiger huwelik, soeter kinders, die lysie gaan aan. Daar is nog nooit ‘n gids geskryf oor die ABC van ‘n suksesvolle begrafnis nie.
Gisteraand gaan drink ek ‘n glasie wyn saam met tannie Elaine en Illa en Wilma. Ons gesprek draai om begrafnisse. Tannie Elaine moes die naweek haar geliefde tannie Mary-sussie begrawe na ‘n lang siekbed. Die dat ons nou by so somber onderwerp draai. Ons praat oor die begrafnisbriewe, die blomme, die kos. Ilse is een van die kreaftiefste, kleurvolste mense wat jy ooit sal raakloop.

Sy sê nou vanaand voor getuies, beduie sy met die een hand terwyl die witwynglas in die ander hand is. Sy soek ‘n bitterrrrr mooi begrafnis. Ten minste troublomme wat tot teen die kerk se dak gaan. Dit moet beslis nie soos ‘n begrafnis lyk nie. Wat die kerkbriefie betref het sy ook definitiewe idees. Sy het iets soos ‘n trou uitnodiging ingedagte. Asseblief – géén wolke, of sonsondergang of begrafnisrose op haar begrafnisbriefie nie. Dit moet ‘n kom kýk begrafnisbrief wees.

Niks koffie en tee nie, dankie. Wyn en vrolikheid en ordentlike snacks. Ek stel voor Ilse raak ‘n funeral planner. Sy sal ‘n nuwe betekenis aan begrafnisse gee!
Terwyl ons lag en ligsinnig is, onthou ek my ma se begrafnis. Ons wou glad nie hê dit moes soos ‘n begrafnis lyk nie. Tannie Christa moes ‘n wilde bos blomme uit haar tuin pluk. Niks begrafnisblomme nie asseblief. Die begrafnisbriefie het wel ‘n sonsondergang gehad en daar was regte begrafnissnacks na die tyd. Maar dit was mooi en almal het iets help doen. Oulaas vir my ma.

Ons drie sussies moes my ma se kis uit ‘n kiskatalogus kies. Ek het nooit eens geweet ‘n mens kies ‘n kis so nie – dis amper bietjie soos shopping uit ‘n Avonboekie. My pa het niks gehelp nie. Net vooraf gewaarsku…vandag kyk niemand prys nie. Ons kies die beste en duurste! Toe het ons drie saam besluit oor my ma se kisklere. Dit het ure geneem. Ons het eenvoudig besluit op my ma se gunsteling dorpsklere. Met haar fyn sandaaltjies met die effense hakkie, vir vinnig stap in die hemel.
Soms kyk ek na ‘n foto van myself en sê vir Lambrecht, as ek nou doodgaan moet daai op my begrafnisbriefie kom. Hy haat dit as ek dit doen. Gisteraand het ek vir Illa gesê sy moet tog net asseblief eendag my begrafnisbriefie maak. Iets kreatiefs sonder wolke of begrafnisrose. Dis tog ons almal se lot, mens kan netsowel maar soms ligsinnig wees oor die ABC van begrafnisse.

En Illa, ek dink steeds jy sal ‘n uitstekende begrafnisbeplanner wees!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep