Woorde wat mens maak dink


Verlede Woensdag gaan maak ek vir die eerste keer ‘n draai by oom Basie Basson \se skoenwinkel in Wellington. Ek’s opsoek na iets moois, prakties en plat, dog bekostigbaar. Oom Basie kom bied vriendelik aan om te help, maar ek wys die hulp van die hand. Ek het ‘n vreeslike besluitelose natuur en vaar altyd beter so op my eie. Dit maak my net verleë as iemand my besluiteloosheid nog moet gade slaan ook.

Oom Basie kom help inelkgeval. Ons gesels later so lekker dat ek skoon vergeet van skoene aanpas. Net voor ek my nuwe paar skoene gaan betaal, beduie oom Basie ek moet in sy kantoor na sy vrou en kinders se foto’s kom kyk. Hy’s baie trots op sy gesin. Oom Basie se vrou is ‘n sprankelende donkerkop tannie.

“Sy sê soms dat sy nie dink sy het tot haar volle potensiaal in die lewe gekom nie. Sy was immers maar altyd ‘n tuisbly mamma. Sy het drie Godvresende kinders grootgemaak. Wat groter is daar om te bereik in die lewe?” vra oom Basie my eensklaps baie ernstig.

Oom Basie se woorde maak my diep dink. Want ek’s ook ‘n tuisbly mamma wat soms dink ek’s vaal en oninteressant en regtig nie besig om my potensiaal te bereik nie.

Saterdag is Wellington so warm soos dit hier kan raak. Die sekuriteitswag by die hek is netjies uitgevat in sy uniform en hy groet is hartlik met ‘n glimlag soos altyd. Ons wonder hoe warm sy uniform en sy klein “kantoortjie” moet wees. Lambrecht onthou van die 2L yskoue Coke in die yskas en besluit om dit vir hom te neem. So met die gee-slag lag Lambrecht en maak kamma verskoning oor dit skoon Coke is, geen mix.

Die sekuriteitswag glimlag dankbaar vir die koue Coke en antwoord dan, “Nee Meneer, ek drink nie daai goed nie. Ek’s mos ‘n kind van die Here.”

Die trots waarmee hy daardie enkele sin sê kan ek ongelukkig nie op papier vasvang nie. Hy het dit nie net sommer gesê nie, hy het dit geproklameer. Hy’s ‘n kind van die Koning. Punt.

Sy woorde maak my ‘n tweede keer hierdie week diep dink.

Om Godvresende kinders groot te maak is nie ‘n enkele dag se werk nie. Dis járe se vertel en leef vir Jesus. Dit begin al wanneer jou liefkind nog net ‘n spikkel onder jou hart is. Dis daardie kere wanneer jy “Genade onbeskryflik groot” sing 3-uur in die môre omdat jy nie meer raad het vir jou of jul kind nie. Dis “Vissies in die water” met badtyd en “Loof hom met die tromme” terwyl jou peuter opstandig deur ‘n “tantrum” werk. Dis sekerlik baie, baie, baie nagte se bid om jou kind deur tienerwees en studentwees te kry.

Dis ‘n roeping.

Net so moet dit van jou vát om by ‘n plek te kom waar jy kan sê, “Ek’s mos ‘n kind van die Here,” ongeag. Ek’s nie lou vir die Here nie. Ek’s aan die brand. Ek skaam my nie meer om ‘n koninkrykslewe te lewe nie. Ek doen dit met oorgawe. Ek sal ‘n ark vir die Here op droë grond bou as dit is wat Hy van my vra.

Dis ‘n besluit.

Waar’s ek? Ek’s iewers tussen in besig om myself te evalueer. “Work in progress.” Genadiglik is ons die kinders van ‘n baie genadige Vader!  

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep