Die wrang smaak van oorvreet
“Maar my magtag. Eet ek sowaar 4 koeksisters sonder dat
ek wou, lus was, of geweet het ek doen dit. Dis wat gebeur as 10-uur gaste nie
genoeg eet nie.” -Retha
Compion (Woensdag)-
Toe ek hierdie muur inskrywing van Retha op haar
facebookbladsy raaklees, kon ek nie anders as om sommer kliphard te lag nie.
Ken ons nie almal daardie verslae gevoel na ‘n ondeurdagte vergryp nie? Jy
besef eers jy en jou man het sommer ‘n hele slab sjokolade alleen verorber – as
jy met die leë ou papiertjie asdrom toe strompel. Soet en oorvreet en verslae.
Ek bid elke môre opnuut vir selfbeheersing. Of ek
smeek dit van die Here af, want daar’s ‘n handjievol goed wat ek eenvoudig nie
kan weerstaan nie. Grondboontjiebotter is een van daardie dinge. Dan neem ek
soms ‘n doelbewuste besluit om dit liefs nie in ons huis aan te hou nie. Dis
egter so selfsugtig, want ons Amé-kind is net so lief vir grondboontjiebotter
as haar ma. Nou ontneem ek haar dit weens my vraatsig en gebrek aan
selfbeheersing.
Koop ek dit wel – altyd die crunchie soort, want min
dinge is so lekker soos die gekraak van die grondboontjies onder my tande nie,
pla dit my die heeltyd. Ek smeer dit in onbetaamlike dik hale op my brood. Ek
en Amé werk in ‘n week se tyd deur ‘n potjie. Die laaste twee teelepels vol eet
ek sommer vir nagereg voor die tv na my middagbroodjie Vrydagmiddag. Elke week
dink ek – joe Suné, jy kon jouself weer nie inhou nie. Dis sommer pateties!
Gisteraand is my man se jaareindfunksie. Vir
voorgereg is daar van sushi tot klein skaaptjoppies met ‘n brosgebraaide
vetjie. Dis hemels en ons vergryp ons effens te vroeg in die aand al. Teen
nagereg tyd is ek eerlikwaar meer as versadig. Tog trek die tafel met ‘n
verskeidenheid van nagereggoedjies my soos ‘n magneet. Toe ek my weer kom kry
staan ek langs die tafel, bordjie in die hand. Ek sal net ‘n klein stukkie
kaaskoek geniet, besluit ek. Terwyl ek gesellig met my man langs die
kaggelvuurtjie staan en gesels, eet ek ook ‘n ou truffletjie of twee. Saam met
my koffie eet ek ‘n stukkie nougat.
En toe voel ek mislik.
Mislik van vol én mislik van teleurstelling. Jy
weet, ek’t die aandjie aangedurf met die mooiste voornemens. Genadiglik dra ek
gisteraand ‘n vergewensgesinde swangerhempie wat my geheim van oorvreet mooi
verbloem.
Vanoggend eet ek net ‘n groot piesang vir ontbyt, om
op te maak vir gisteraand. Maar spyt kom mos altyd te laat…
Comments
Post a Comment