Ons bak Pofadder Koekiefees koekies


Ek kuier by my Marietjie-sussie op Millerton. Dinsdagoggend beplan ons om koekies te bak. Oor sowat twee weke is dit hul Pofadder A.P Kerk se koekiefees. Ons sal die koekiebakkery in fases afhandel. Met kinders moet mens nooit te entoesiasties of opportunisties wees nie. Hulle bepaal immers jou spoed. Dis ‘n harde les wat mens noodgedwonge vinnig moet leer.
Dinsdagoggend begin nie goed nie. Ame se eerste vloermoer is voor sy haar oggendpap kan eet. Vir die res van die oggend wil sy opsluit op my skoot sit. Asof sy sement is. Anmari se tande pla en sy is self nie te gelukkig om sommer net op haar eie te speel nie.

Ons deel die laaste bondel deeg van die outydse soetkoekies tussen die niggies. Ons gee vurke waarmee hulle gaatjies in die deeg kan steek. Ons is later raadop. Die niggies eet bondels van die deeg en raak woedend as ons dit dan afvat.

Die oggend is ‘n absolute nagmerrie. EK voel later tranerig. Ek en Marietjie het dan nou so uitgesien na die saam koekiesbak. Die smeltkoekies se bolletjies rol ek naderhand maar so met Amé op my skoot. Ek’s desperaat om nie uit te mis op hierdie spesiale oggend nie.
Die volgende baksel gaan ons beslis eerder in die aand bak, as die twee rustig slaap, besluit ons later. Gisteraand maak ons dan so. Ons beplan om koekies deur die meultjie te sit: Koffiekoekies, lemon creams en vlakoekies. Ons lemon creams is ‘n dawerende sukses en teen 20:30 kan ons lemon creams op ons lysie aftiek. Baie trots. Die koffiekoekie deeg is stywer as verwag en sorg vir drama van sy eie.  Die meultjie is al aan die ouerige kant en voor by die lem loop dinge toe lelik skeef.

Ons moet helaas die stukkende meultjie eenkant sit en ‘n plan B bedink. Ons moed is nou effe gebreek. Ons was so lekker op dreef. Ten einde rol ons die koffiekoekiedeeg maar uit. Dis tydsaam en die deeg vra ról. Ons besluit eenparig op nie-tradisionele koffiekoekies. Ons kan maar net duimvashou dat ons kreatiewe pogings vriendelik ontvang sal word by Pofadder se koekiefees. Ons koffiebere en koffierosette kom pragtig uit die oond. Dit ruik hemels en proe net soos dit ruik.
Teen 22:00 kan ons spog met ‘n redelike hoeveelheid koffiebere en rosette. Nou is dit nog net die vlakoekies. Marietjie maak eers vir ons heerlike melkkoffie – van tannie Susan-hulle se lekker vars plaasmelk. Dan pak ons die vlakoekies met ons laaste energie. Skuins na 23:00 steek Marietjie die laaste bakplaat vlablomme in die oond.

Teen hierdie tyd is ons vodde, maar tevrede. Die wind waai triestig buite, maar Stan en Marietjie se plaaskombuis is warm gebak en ruik die ene vars kleinkoekies. En my en Marietjie se gemoedere voel weer veerlig. Want so tussen die bakkery deur kon ons ligsinnig raak oor ons lewens. Ons kon uitbundig lag oor die dinge wat ons soms tot trane dryf. Ons kon ons varsgebak warm uit die oond proe – soos uit ons kinderdae.
Ons kon sommer weer net laf sussie-wees. En vanoggend is ek ‘n nuwe mens. Nou hou ons styf duime vas dat ons kreatiewe koekies wat met soveel susterliefde gebak is, ‘n kerk koekiefees treffer sal wees!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep