Oom Stoffies se dieet taktiek


Onlangs kom kuier oom Stoffies-hulle terwyl ek ook op Makkiesplaas is. Oom Stoffies is my pa se jonger broer, maar almal van Kakamas tot Kairo ken hom gewoonlik. As jy al eenmaal in sy Panarotti’s op Worcester geëet het, en hom daar raakgeloop het, sal jy dit beslis nie vergeet nie.
Sommer so met die afklimslag, toe tannie Marinda inkom met koffie en koekies, vertel oom Stoffies ons van sy groot probleem. Hy is groot soos hy in sy lewe nog nie was nie. Hy moet dit eers bedink en beplan voor hy uit sy bakkie klim, of uit ‘n stoel opstaan.Sy veters is ook deesdae maar konstant so los. Moeite, of onmoontlik, jy weet.Nou moet hy dringend gewig verloor.Vir sy oudste meisiekind se troue. Of hy moet liewer so dik raak dat niemand hom eers erken as hy die paadjie afstap met sy meisiekind nie.

Want hier waar sy gewig nou is, is net skandalig. Jy weet, deesdae as hulle gaan uiteet maak hy sommer sy belt en sy boonste knoop los voor hy gaan sit. Man wil mos darem jou uiteet geniet ook! Ons moet raad gee.

Almal is dit eens dat oom Stoffies drie maande oor het. Hoe vinniger hy wegspring met ‘n dieet, hoe wonderliker die resultate. Nee wat, ons ken hom swak, skud oom Stoffies sy kop. As hy te lank vooraf begin, gaan hy moedeloos raak en tou opgooi. Hy het so vier verskillende dieetopsies.Hy’s nou besig om elkeen daarvan wetenskaplik te bekyk. En dit vat tyd. Hy sal so twee weke voor die troue begin. En die laaste week sal hy sommer heelweek vas. Dit behoort die ding te doen, of hoe?
Ons lag net.

Die laaste aand voor hul terugry sit ons almal aan die aandetetafel. “Nouja Stoffie, ek dink ons begin sommer more dieet,” stel tannie Vossie voor. Sy klink kwaai en beslis.Oom Stoffies lyk taamlik bedremmeld. Hy vat nog ‘n skaapwagtersny boerbrood en plak dit met botter, van tannie Marinda se tamatiekonfyt en ‘n bergie kaas. Dit lyk geil lekker.
“Jy weet Arrie, daar is mos baie redes hoekom mens jou ooreet. Senuwees is mos een van hulle. As ou Vossa so streng raak oor die dieet, raak ek vreeslik senuagtig. Soos ek nou voel wil ek sommer maar deurnag hierlangs die tafel sit en eet. Jy weet, dat ‘n man darem versadig is as jy begin dieet.”

Oom Stoffies lyk taamlik versadig na sy broodjie. Hy’s nou reg vir wat voorlê knik hy tevrede.

Hulle ry die volgende oggend terug huistoe. My pa lui oom Stoffies namiddag se kant om te hoor hoe die ryery vorder. Hulle is by Kardoesie vir ietsie te eet en te drink. Ry maak ‘n man mos maar honger, jy weet. G’n mens begin ‘n dieet so op die lang pad nie.
Ja nee oom Stoffies, dis onverskillig om met ‘n honger maag te ry…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep