Tuinblomme vir jou


Ek wil vanoggend ‘n bossie blomme op jou tafel kom neersit oor jy ‘n vrou is. Sommer blommetjies uit die tuin – vriendelik en opreg. Maak nie saak jou ouderdom of die seisoen waarin jy jou vanoggend bevind nie. Daar’s ‘n bossie vir elke vrou.

Dalk is jy ‘n jong dame met groot drome oor die toekoms. Jy wonder wanneer jy jou liefde van jou lewe gaan ontmoet en of hy gaan kan dans. Wat gaan jou van eendag wees? Waar gaan julle woon en hoeveel kinders gaan julle hê? Dalk ken jy selfs al die name van jul kinders.

Of dalk is jy jonk getroud. Jy en jou prins slyp nog aan mekaar. Hy vergeet nog om die toilet deksel te laat sak en jy sukkel om te verstaan waarom die TV altyd op die sportkanaal moet wees.

Dalk het jy al kinders. Jou huis is nooit meer netjies nie en die wasgoedmandjie is altyd vol. Niks is meer joune nie. Allermins jou tyd. As jy nie spesiale tyd met jou kinders spandeer nie, spandeer jy dit met jou man. Spesiale tyd met jouself is iets waarna jy slegs maar terugverlang. Lank nie meer ‘n realiteit nie!

Of dalk is jou kinders al uit die huis. Jy moet leer dat hulle snoesige kinderlyfies nie meer in jou bed kom soek vir liefde nie. Hulle sprei nou hulle vlerke en jy kan maar net elke dag die Heer se genade afbid vir jou kind.

Die Here het ons vrou gemaak met sagter harte. So gaan elke seisoen gepaard met sy eie trane en vreugdes. En omdat ons vrou is ervaar ons elke liewe seisoen soveel meer intens. Waar ek vanoggend voor die wasbak staan met die eerste sarsie skottelgoed vir die dag, is ek bietjie keelvol vir vrouwees. Ons Johanita-feetjie was eergister deur die huis, en vandag lê daar piepklein tuinspoortjies ons huis vol. In die gang het ons liefkind haar hele pienk waterbottel se inhoud uitgeskud. Groot pret! Die macaroni waarmee sy in die TV-kamer moes speel en van een bakkie na ‘n ander gooi, het sy stukkies gekou en oral op die mat uitgespoeg.

Na ek bietjie op die toilet gaan sit en huil het, begin tel ek weer my seëninge. Want vrou-wees is ‘n ongelooflike seën. Dis net soms dat die baie verantwoordelikheid wat die titel “vrou-wees” behels, mens weer nederig op jou knieë dwing.

Waar jy as vrou eintlik die heeltyd behoort te wees!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep