Chantel se prettige Pofadder ooievaars
Donderdagoggend
ry ons af Pofadder toe. Vir Chantél se ooievaarstee. Ons ry
‘n bietjie vroeër, want Marietjie het besigheid in die dorp voordat ons kan ooievaarstee
hou. Ek en Marietjie sien so uit na die uitstappie. Ons trek onsself en ons dogtertjies
mooi aan vir die spesiale dag in Pofadder. Ons moet egter weens omstandighede
met Stan se plaasbakkie in ry dorptoe.
Dit impliseer
dat ons viertjies gesellig saam voor in ‘n enkelkajuitbakkie, moet nesskrop. Marietjie
is so gelukkig om die bakkie te bestuur. Ek is dus aan my saligheid oorgelaat
met twee erg woelige kleingoed. Oppad na Pofadder knibbel hulle aan mariebeskuitjies
en spoeg gwêlle daarvan op ons skoon klere uit. Anmari se snotneusie blaas babbeltjies en dit
bars op haar mamma se bruin baadjie.
Toe ons in
Pofadder stop, lyk ek en Marietjie smerig. Ons kinders is moeg van stilsit. Nou
wil hulle beweeg. Marietjie sluit aan by die spannetjie wat help om die
ooievaarsparty onthaallokaal te versier (Pofadder se kleuterskool). Ek moet ‘n
paar stukkies kruideniers by Liezl se winkel, Food Zone, gaan koop vir Marietjie.
Ek leen my sussie se dorpskarretjie, ‘n navy Ford Tracer sonder karstoeltjie of
enigiets van so aard, om die inkopies te gaan doen. Amé kan haar geluk nie glo nie.
Dit gebeur mos nooit dat sy so lekker “vry” kan rondrits in ‘n kar nie.
Toe ek voor
Food Zone stop, ruik ek my kind se doek. En dis nie ‘n aangename reuk nie. Ek stuur
‘n skietgebed op dat dit nie ‘n tandedoek sal wees wat oploop sal gaan nie.
Daar’s nie tyd dat ek dit nou omruil nie. Ek moet net vyfgoedjies kry, dan kan ek
haar doek vinnig by Marietjie se skoonma, tannie Mercia, se huis omruil.
Maar soos dit
in die platteland gaan, loop ek van Marietjie se bure raak. Die tannie wil eers
gesels. Ek hoop maar sy ruik nie my kind se doek nie! By die till wil die gawe vroutjie
agter die till eers met my vriendelike kind gesels. Oppad uit die winkel knoop Amé
‘n geselsie aan met mense in polisieklere. Ek dink net: poefdoek, poefdoek,
poefdoek. Kan almal dit ruik?
Stiptelik om
drie-uur skop die ooievaarsparty af. Langoor KLeuterklub is ‘n prentjie toe ons
arriveer. Arnél, Nicola en Erika het werklik baie moeite gedoen. Kanterige tuisgemaakte
vlaggies hang vrolik uit die dak. Die malvalekker boompie lyk uitbundig en
Retha se allerfraaie koek rond die prentjie af. Die eetgoedjies is alles tuisgemaak
uit ‘n klomp kombuise – mense wat regtig omgee vir Chantél. Sy is oorstelp deur
die verrassing en aanvanklik wil die trane nie ophou loop nie.
Dit raak ‘n
heerlike middag. Tannie Elize sit langs my en ons kuier sommer so tussendeur Chantél
se geskenke oopmaak. Te lekker. Minette sit langs my en Marietjie en haar ligsinnigheid
vermaak ons behoorlik.
Ons kleingoed?
Wel, hulle het ook ‘n heerlike middag. Lena en Patience pas hulle op en gaan speel
geduldig met ons pienk dogtertjies in die sandput agter die skooltjie.
Die
ooievaars hou effens te lank aan en toe ons skuins na ses uit Pofadder wegtrek,
is ons kinders moeg partytjie gehou. Baie moeg. Hulle weier om te eet aan die
gesmelte kaasbroodjies wat ek geduldig aanbied. Dis donker en stowwerig voor in
die plaasbakkie. En die dakliggie werk nie meer nie. Anmari spoeg haar dummy uit en is woedend as
ek dit nie by my voete kan vind tussen speelgoed en kos sakke nie. Ek bid vir
‘n bietjie genade en vind dit uiteindelik by my voete.
Dan is
Anmari buite haarself. Sy soek gliserien op haar dummy. Maar die flippen gliserien
is agter die sitplek. Ek beduie vir Marietjie sy moenie stop nie. Sy moet ry.
Ek sal ‘n plan maak. My Amé-kind maak net sulke neulgeluidjies. Sy besef seker haar
mamma is naby knak. Ek onthou van die guava-sappie en doop Anmari se dummy
daarin. So maak ons vir die volgende 40km. Dummy in die guavasap, Anmari suig die
sap af, spoeg die dummy iewers in die donker plaasbakkie en raak dan woedend en
opstandig. Skuins anderkant die afdraai na Sarien-hulle se plaasopstal, raak Anmari
se klein lyfie rustig. Sy raak so guava-dummy in die mond aan die slaap.
Toe ons voor
Marietjie en Stan se huis stop, slaap Anmari rustig op my skoot, en Amé slaap
met haar koppie op Anmari se maag.
En toe moet
ons hulle wakkermaak vir aflaai…
Comments
Post a Comment