Dis die klein dingetjies....


Sowat ‘n week gelede gaan drink ons koffie by Frans en Nicola se varsgeboude plaashuis. Alles op die werf is nog nuut. Net voor ons ry vat sy ons trots na haar hoenderhok met haar nuwe hoenders. Laasweek eerste eier gekry, spog sy baie trots. Weet ons hoe lekker dit is om vir die eerste keer in jou lewe jou eie hoenders se eiers te gaan uithaal?
Ek weet nie. Ek koop mos myne by Checkers, in die size van my keuse.



‘n Week gelede sit ons langs die skermvuur op Makkiesplaas. My pa se legendariese broer, oom Stoffies, en tannie Vossie en neef klein André kuier ook hier. Terwyl my pa die roosterkoek braai knibbel ons aan stukkies springbokwors, vars van die kole.

En toe begin onthou die broers van hulle grootword dae. Dit was die dae van skermvure saans en die longdrop toilet. Dit was swaar dae daai, stem hulle soos een man saam. Ek kan sien dat albei ver teruggaan. Hulle het Desembervakansies by Ceres se bos gaan vakansiehou, want daar was familie in Ceres. Onthou hy die Kersfees wat hy wat oom Stoffies is ‘n plastiekboot gekry het vir Kersfees, wil oom Stoffies by my pa weet. (Hy en my pa moes dit deel. Hulle was immers ses kinders en Kersgeskenke moes soms gedeel word!) Hulle nefie, Berto, was ‘n enigste kind. Hy het daai selfde Kersfees ‘n splinternuwe fiets gekry. My pa onthou, knik hy. Hulle was aanvanklik bitter jaloers, maar toe hulle eers met hul nuwe plastiekboot begin speel, het hulle gou van die fiets vergeet.

Dan was daar die Kersfees wat hy en my pa ‘n gebreide sokkerbal gekry het. Dit was opgestop met sykouse. Oom Stoffies onthou selfs die kleure van die bal. Ons lag dat die trane later loop.

Toe ek daardie aand in die bed lê, maak ek ‘n opsomming van ons oorvloed in my kop.

Ek kom tot die slotsom dat ons te oorvloedig het. Dit gaan geil in die Boland – geil van berge, groen, wyn en feeste. Ons maak kinders groot met genoeg wat nooit regtig genoeg is nie. Ons jaag rykdom na vir mooier karre en groter huise. Ons staan min stil om dankie te sê vir ons verskriklike oorvloed.

Dis ‘n ongelooflike verantwoordelikheid dink ek voor ek wegglip in droomland daardie aand. Want eendag sal ek trots wees as ons Amé-kind kan weet dat ‘n plastiekboot net so lekker kan speel as ‘n fiets. Ek sal gelukkig wees as my kind die waarde van stof en niks en binnestilte kan waardeer. Ek sal oorstelp wees as my kind begryp dat blinkgoed nooit ‘n gelukkig en tevrede hart waarborg nie.

Intussen moet ek elke dag opnuut leer dat die voorspoed en oorvloed en geluk waarvan die Bybel praat nie noodwendig altyd rand en sent is soos ons so graag wil glo nie.

Dit  sit diep binne jou. Ek sien dit in my Pa en oom Stoffies se oë terwyl hulle vertel van swaar grootword op Makkiesplaas in die Boesmanland.

‘n Mooi, gelukkige tyd in hul lewens.

Comments

  1. dankie sune! Dit is pragtig! Liefde!
    Oja, ek het nou vir jou hier in engeland ook 'n gevolg gekry! Ek deel al jou mooi lewenslesse met al my vriendinne!

    ReplyDelete
  2. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep