Ons Parys-sambreel
Ongeveer 4 jaar gelede is ons vir ‘n langnaweek Parys toe. Toe het ons nog in Engeland gewoon en Europa was net ‘n klipgooi vêr. Ons vlug was baie vroeg die oggend en weens ‘n ongeluk op die hoofweg het ons so byna ons vlug verpas. My man was later ongeduldig en gefrustreerd. Ons was jonk getroud en ek was ontnugter deur my ander helfde se woede oor die situasie daardie oggend.
Ons land dus toe in die stad van die liefde…glad nie in ‘n
goeie bui nie. Ons eerste uitdaging was om ‘n plek te vind vir ontbyt. Ons
bestel toe maar wat mens in Parys eet, naamlik croissants. Dit is bedien met
slegs botter. Ek wou beslis kaas daarby hê. My arme man het alles probeer – van
sy beste Afrikaans-Frans tot sy beste Engels-Frans. Na ‘n baie groot gesukkel
kon hy daarin slaag om kaas te kry.
Die weer was triestig en ons vervoer was hoofsaaklik maar te
voet. Lambrecht het vroeg voorgestel dat ons ‘n sambreel koop. Ek het
vasgeskop. Dis sommer nou onnodig. Ons begroting vir ons Parysnaweek was
fyngesny en ek sou liefs geld spandeer op toerisme aantreklikhede. Toe maak die
hemele oop en dit reën. Ons moes noodgedwonge by die naaste winkel instorm,
stert tussen die bene vir ‘n sambreel. En dis toe, soos die duiwel wil, ook nie
‘n goedkoop winkel nie! Dit kom nou van hardkoppig wees!
Die sambreel was ten einde ons kosbaarste kopie in Parys.
Ons het groot dele van daardie naweek saam onder die sambreel deurgebring. Styf
langs mekaar het ons onder ons sambreel staan en wag in ‘n lang tou om Van Gogh
se werke in lewende lywe te besigtig. En toe was Lambrecht glad nie eens
beïndruk nie!
Ons het ons naweek afgesluit met ‘n onvergeetlike oomblik op
die Arc de Triomphe. Ons Parys-sambreel het bygedra tot die perfekte naweek.
Gister wil ek en Amé gaan materiaal koop by Bergrivier
textiles. Dit sous buite. Ons Parys-sambreel onder Grietjie se sitplek red ons
lewens. Amé is vreeslik opgewonde oor die sambreel. Ons tweetjies stap so onder
die sambreel deur die gietende reën. Plotseling voel ek sommer kinderlik
verspot oor die mooi oomblik. Ek sing vir Amé reënliedjies so onder die
sambreel en sy sing later saam.
Terug in Grietjie voel my hart sommer bokspring gelukkig –
oor die herinneringe wat die sambreel gebring het, en oor ‘n spesiale oomblik
saam met ons dogtertjie onder die sambreel, en oor die vreugde wat reën bring.
Comments
Post a Comment