Pakkie van die plaas af


Tannie Alba kom drink netnou ‘n vinnige koffietjie by my. Sy is stylvol soos altyd in rooi en swart vandag. In haar een hand het sy ‘n bos sonneblomme om ons huis warm te maak in die koue kaapse weer. In die ander hand het sy ‘n pakkie vir Amé van haar af, èn ‘n pakkie van Makkiesplaas af.

Dis so lekker met tannie Alba hier. Amé kan haar geluk byna nie glo nie. Iemand wat met haar perdjie ry, vir haar ‘n boekie lees en soveel aandag aan haar skenk. Tannie Alba en haar sonneblomme het sowaar die koue heerlik kom verdryf! Oppad uit maak sy verskoning. Sy moes met die plaasbakkie kom. Sy is mos hier om vir Nico te help trek. Sy moes ‘n tafel van hom saambring vir sy nuwe huis. Al die pad van die plaas af. Iewers langs die pad het die bakkie nog spatsels beesmis ook opgetel!

Toe sy weg is pluk ons, ons pakkie oop. Wat ‘n vreugde! Daar’s ‘n houtwieletjie vir Amé wat jy so rondstoot aan ‘n stokkie, daar’s Whispers en goeie koffie en Macadamia botter en die mooiste Hartsgoed kussingoortreksel. (Die vorige Macadamia botter het ek skelm, tot my en my man se skok, alleen opgeëet. Tot vandag toe weet ons nie hoe ek so vraatsig en selfsugtig kon wees nie!)

Dan is daar die kosbare briefie. Nasya skryf dat sy na ons verlang en dat ek regtig vir haar soos ‘n sussie is. Sy verlang ook na Langberg (Lambrecht) en sy vermaan Amé om tog ‘n soet dogtertjie te wees. Tannie Marinda vertel van die weertjies en die seisoene wat verander en die skilpaaie wat loop. En sy verlang. Pappa skryf dat hy sy kleinkind baie verlang. Tannie Alba het gesê daar’s plek vir ‘n slagdingetjie, maar ‘n mens stuur net vir jou universiteitskinders slaggoed saam met ‘n lift. Jou groot kinders moet dit maar self kom haal, sluit hy sy brief af.

En uit die koevertjie val dan ‘n banksakkie rabbas. Ek raak skoon bewoë. So het my pa dit alle jare altyd universiteit toe gepos. Lang brief met plaasnuus – van windpompe en die jakkalse en ‘n sakkie rabbas. As die veld geil genoeg is.

Dankie Pappa en tannie Marinda en Nasya. Die pakkie is vandag vir ons ‘n gróót lekkerte. Dankie tannie Alba. Ons het tannie se sonskyn vanoggend nodig gehad in die reën! Die Here weet wanneer jy ‘n pakkie en ‘n bietjie sonskyn die nodigste het…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep