Dankbaar 2015 in


Die woorde in my kop is deesdae baie stil.

Ons het ‘n nuwe skaaphondjie, Stella. Ek het nie geweet skaaphondjies is so energiek nie. En hulle kou aan álles. Van jou kinders se buite speelgoed, tot die gras en jou enigste roosboompie. Ons 21 maande-oue dogtertjie is in proses om uit haar bababedjie na haar dogtertjie bedjie te skuif. Ons moet eers by haar lê tot sy wegglip in droomland, en dan kom maak sy ons nag vir nag so rondom half twee wakker. Dis niè maklik nie. Dis piekseisoen in my man se lewe. Hy soek orals mooi druiwe vir die Ooste. Hy slaap en eet en leef nou druiwe. Vandag oor minder as twee weke sal ons ‘n seuntjie ryker wees. Alhoewel ek presies weet wat om te verwag, bly die hospitaalgedagte ‘n vreesaanjaende een. En ek bly maar bekommerd oor ons oudste wat tot dusver die enigste spil was waar om ons wêreldjie gedraai het. Alles in een asem opgenoem.

Dus – my kop het nie tyd vir dink en stories maak nie. Ek oorleef en hanteer net nóú.

Tog, ondanks bogenoemde lysie, was my hart nog nooit so vrede en tevrede nie. Ek het vir ‘n baie lang tyd in my lewe gely aan onvrede. Onvrede oor my gewig, onvrede oor ek nie sinvol genoeg lewe nie, onvrede omdat ek myself gedurig vergelyk en elke keer te lig bevind.

Ek’s genadiglik oor dit. Of dalk het my kop nie meer tyd om sulke draaie te loop nie.

Ons huis het onlangs ‘n fotomuur ryker geword. Daarop stal ek my rykdom windgat uit. Ek twyfel nie meer oor my identiteit nie. Ek vergelyk my nie meer nie, want ek en Lambrecht het meer as genoeg. My wyse pa sê altyd dis gevaarlik as dit tè goed gaan. Dan spandeer jy min tyd in jou binnekamer. Ons oorvloed is genoeg om ons nederig op ons knieë te hou!

Die redaktrise van die Baba en Kleuter skryf so mooi dat sy 2015 haar dankbaarheidsjaar wil maak. Dis presies wat my hartsbegeerte ook is. Ek gaan hierdie jaar afwyk van my 5-punt voornemens wat normaalweg gewigsverlies en meer geduld insluit. Ek wil net dankbaar leef, elke dag. Ek weet dit gaan ‘n tandekners jaar wees met twee klein kindertjies. Ek hou vas daaraan dat Jesus my sal help perspektief behou. Dat ek en Lambrecht steeds soms tyd sal maak vir op ons gras sit en verwonderd kyk na Wellington se  berge. Dat ons dankbaar sal wees vir ons kinders, al is slaap min en die kindertjies moeilik. Dat ons altyd gewow sal bly om mekaar as lewensmaats te hê, al raak die see hoe stormagtig. Dat ons elke dag dankbaar sal wees vir gesondheid, wonderlike vriende en familie.

Mag 2015 vir jou niks minder wees nie. Mag vrede en dankbaarheid jou lewe vól maak. Mag jy elke dag na jou fotomuur kyk en glimlag oor jou rykdom. Mag jy God se goeie guns opnuut elke dag naby aan jou lyf voel.

 

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep