Ons bloed is groen!

  

Ons bloed is groen

[NOTA: Hierdie storie het ek geskryf na ons vorige wedstryd teen die All blacks. EK het dit net nooit gepost nie…2 maande terug.]

“My pa sê die Springbokke het die All Blêks pap gespeel,” vertel James met groot oë. “En hulle het twee geel kaarte en ‘n rooi kaart gekry, weet tannie,” vra James terwyl hy met sy klein vingertjies al die kaarte wys. Die bok koors loop hoog in my 5-jarige kleuterskool klassie. Ek speel Leon Schuster se nuwe Bokmasjien liedjie vir hulle. Luan lyk bekommerd. Hoekom sing die oom sy bloed is groen, wil Luan ernstig weet. Is sy bloed dan nie rooi nie? Ek verduidelik mooi dat ons almal eintlik groen bloed het. Ons het Springbokbloed in ons are. Die seuntjies ril eintlik van lekkerkry as Bokmasjien speel.

Heelwat later wil ek my spannetjie “Dis heerlike lente,” leer sing. Dit pas immers by ons tema vir die week. Nee dankie tannie, antwoord hulle ewe beleef. Ons wil liewers weer vir Bokmasjien hoor.

Onlangs maak ons 8-jarige Daniël-kind ‘n bordspeletjie vir ons gesin. Dis sommer uit karton met ‘n paadjie wat jy moet stap. As jy ‘n vragie korrek antwoord kan jy vorentoe skuif. Die vragies is daarop gemik dat ons mekaar beter leer ken. Ons kinders is mal oor bordspeletjies! Die vragies is enigiets van wat jou gunsteling kos is, tot of jy eerder ‘n hondmens of ‘n kattemens is. Wat jou kwaad maak en wat jou laat lag. Een van die vragies is ook: Watter land is jou gunsteling? Toe Daniël die vragie klaar gelees het giggel al drie ons kinders. Dis eintlik bietjie van ‘n simpel vragie mamma. Ons weet mos Suid-Afrika is ons gunsteling, gunsteling, gunsteling land.

Ons kinders se onskuldige antwoord maak my so gelukkig. Ons werk hard daaraan om ons kinders verskriklik lief vir ons land te maak. Ons kamp saam, ons ry saam fiets, ons luister saans Tolla grappies in die bed, ons ken Orkney-Snork-nie se episodes byna uit ons kop. Ons gaan kuier by ons plaasfamilie en gee hanslammers melk en help skaap werk. Ons gaan kuier by ons Hermanus familie en eet draairoomyse op die strand terwyl ons die Burger en die Rapport lees. Ons leer ons kinders langarm op lekker Afrikaanse sokkietreffers. Ons eet malvapoeding en kaiings en ons bak ons eiers in sagtevet. Ons speel Boereplaas en ons probeer ons bes om ordentlike Afrikaans te praat. Ons praat oor ons mooi land en ons praat oor ons land se goeie mense.

Ons koop al Jaco Jacobs se lieflike Afrikaanse boekies en ons verslind elke nuwe Afrikaanse fliek wat die lig sien. Ons probeer hard. Ons wil ons kinders so lief maak vir die Suid-Afrikaanse bodem dat hulle eendag hier wíl bly. (Ek besef vir baie Suid-Afrikaners is daar regtig net nie ‘n ander opsie as om oor die waters te gaan nie. En ek besef dis nie ‘n maklike pad nie!) Ons het self vir byna twee jaar in Engeland gewoon. Die Engelse kon nie eens my heel beste Pofadder Engels verstaan nie.

Die vakansie eet ons 4-jarige Adriaan sy eerste skaapkop saam met oupa André langs Makkiesplaas se kombuistafel. Die outjie lek eintlik die vetstrepe rondom sy mond so tevrede af en dan sê hy:” Oupa, dis nou lékker!”

Ons hoop Adriaan se kinders en sy kinders se kinders, en sy kinders se kinders se kinders gaan nog eendag kan skaapkoppe eet in die Boesmanland.

Baie jare gelede het my ma op die grondpad oppad na ons plaas verongeluk. My pa trou later jare met tannie Marinda wat oorspronklik van Zimbabwe is. Haar pa was destyds een van die heel eerste boere wie van hul plase gesit is en in die tronk gegooi is. En tog, selfs op oupa Jan se einde het hy gesê, hy gaan nêrens nie. Dinge in Zim gaan nog draai. En dan wil hy dáár wees om dit te sien. Dis hoe ek oor ons land voel. Dinge gáán draai, en ek sien met verwagting uit na daardie draaipunt. Hoe dikwels skeur ek Hanli Retief se positiewe stories uit en bêre dit vir ons kinders. As hulle eendag wonder oor ons land wil ek vir hulle moerkoffie met karringmelk beskuit bedien saam met Hanli se stories. En André de Ruyter se boek sit ek by Hanli se stories. Dis een van die mooiste stories van vasbyt. Ons land het baie dapper, hardwerkende, toegewyde mense. Ons moenie ophou om hulle raak te sien nie.

Wat die rugby betref … ons trek ons groen hemde, truie , kêppies aan – wat jy nou by enige plek van Total Sports tot by Pep Stores kan aankoop. En ons staan skouer-aan-skouer, ongeag kleur of kultuur. Ons almal se bloed is immers groen en ons is trotse Springbok ondersteuners. Ons hoop die bokke gaan nog ‘n páár spanne pap speel met hierdie wêreldbeker.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep