Wille manne-naweek


Die spul mans kom verbreek ons vredevolle weeklange Strandfontein vakansie wreed en onverwags. Die nommerplate van hul Prado’s, Rav en ander blink dubbelkajuite verklap dat hulle van Stellenbosch en omgewing is.

 Ek beloer hulle skaamteloos vanaf ons houtdek terwyl hulle uitbundig en lawaaierig afpak. Die koelbokse is baie en swaar. Die kleresakke is klein en leeg, bespied ek bekommerd. Een van die tien kom maak verskoning vir wat wag terwyl hulle die braaivleisvure aansteek. Dis ‘n mannenaweek. Hulle tien pelle doen dit een maal ‘n jaar en hulle sien heel jaar lank uit na die geleentheid. Hulle gaan hulle bes probeer om ons nie te pla nie. Nog een van die ordentlikes neem ‘n selfoonfoto voor die eerste prop oopgedraai word. Ons raai hy stuur dit seker vir sy vroutjie. Waarskynlik die laaste boodskap vir die naweek.

 Hulle kon harder probeer om sagter te braai.

Vrydagaand het die manne nie einde nie. Ons kind skrik stiptelik om 24:00, net toe ons bed se kant toe staan, wakker. Haar agste tand keil haar op. Die mans langsaan help nie. Ek en my geduldige man maak beurte om ons kind te probeer kalmeer. Terwyl dit sy beurt is kan ek nie help om die gesprek om die braaivleisvuur te volg nie. Die een verskoon homself gedweë – hy moet sy vrou gaan bel om nag te sê.  Iemand snork minagtend. Die gebellery maak hom ok klaar, verklaar hy. Bel om aan te meld ons is veilig. Bel om te rapporteer jy gaan slaap, of jy het opgestaan. Of altyd iets.

 Mans praat anderster met mekaar. Een vererg hom vir sy vriend en spreek hom in geen onduidelike taal aan. Hy voeg by dat daar ‘n stuk slaaiblaar op sy neus sit en dat dit belaglik lyk. Vrouens is mooipraters. Hulle vloek nie hulle vriende nie. Hulle vloek nie eens graag vóór hulle vriende nie.

Teen twee-uur is die partytjie besig om ordentlikheid te oorskry. Sommige van die grappies laat my gril. Ek moet myself keer om nie om te stap in my strepiespajamas en die mans aan te praat oor hulle taal en tipe grappe nie. Hulle is so oud soos my pa, dink ek by myself. Ek dink nie my pa sal sulke goed vertel, of eens oor lag nie.

Die volgende oggend herinner my sussie my aan die feit dat daar waarskynlik net een of twee sondebokke was. Dit gee mens sommer ‘n slegte smaak in die mond vir die hele groep.

Ons kry egter die volgende oggend skuins voor sewe, twee van die manne langs die see. Hulle wou sommer ‘n entjie gaan stap. Hulle hoop nie hulle was die vorige aand te luidrugtig nie. Ek smile liewers net. Stilbly is mos ok ‘n antwoord. Teen Saternamiddag sit hulle weer halfmaan op die dek – uitgerus na ‘n heerlike en lang middagslapie. Hulle kombuisdeur staan oop en ek kan in die kombuis in sien. Daar’s niks wat ‘n mens op ‘n standaard kombuistafel sou verwag nie, wel KWV, Jack Daniels en rooiwyn.

Saterdagaand is dieselfde storie. Ons is genadiglik te moeg om wakker te bly. Ons hoor nie die amen van die partytjie nie. Sondagoggend lyk die mans asvaal. “Vandag gaan hulle net herstel vir môre teruggaan,”beduie een van die manne. Ek sien nêrens meer drankbottels nie. Dis vervang met botteltjies water en Powerade.

Hulle lyk gereed vir huistoe gaan. Vir ordentlike kos en Mamma se liefde…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep