Die beroepsweduwee


Ek dink die belangrikste om te verstaan van ‘n beroepsweduwee, is dat haar man mal is oor wat hy doen. Dis nie net sy brood en botter nie, hy kan dit ook geniet vir voorgereg én nagereg. Dis die een ding wat, naas sy gesin, ‘n hup in sy stap sit.

My man se “ding” is druiwe. As hy nie so lief was vir druiwe en alles wat daarmee saamgaan nie, is ek seker hy kon al lankal van beroep verander. ‘n Beroep wat meer geroepe is tot om-die-pot wees!

Nietemin, daardie nuwejaarsaand in Kakamas toe ek hom die eerste keer gewaar en by myself dink: Dis sekerlik die mooiste man wat ek nog ooit gesien het, was hy juis in Kakamas vir DRUIWE. Ek’t dus geweet my man kom in ‘n pakket – manlief en sy druiwe-liefde.

Twee kindertjies later, met ‘n derde oppad, en ‘n Jack Russel en ‘n piepklein swembad wat altyd groen raak as manlief nie tuis is nie, voel ek ewe skielik so jammer vir myself. Die beroepsweduwee.

Die afgelope week is dit weer so. My naweek skop mooi af met skoon tonic met ys en suurlemoenskyfies op my buurvrou se stoep. My gemoed is optimisties toe ek Vrydagaand met manlief oor die foon praat. Die naweek gaan regtig lekker wees. Ek praat myself moed in en probeer manlief duisende kilometers verder gerusstel.

Toe steek die wind op.

Vrydagaand om 02:00 gaan ons alarm vir die eerste keer af. Dis “beams” wat aan die buitekant van elke deur en venster sit. Nou lê jy in die bed – beangs en onseker...is iemand besig om deur die ruit te klim, of is dit die boom se takke wat die alarm aktiveer? Ek stap op my tone met my pienk “Pepperspray” deur die donker huis. Die bure whatsapp dadellik om te hoor of alles reg is. Sulke tyd is mens oneindig dankbaar vir bure wat omgee. Na die vierdie keer wat die “beam” afgaan besluit ek om liefs maar wakker te bly vir so klein rukkie. Teen vier-uur voel ek geen regdenkende dief breek nou meer in nie – die oggend gaan enige oomblik breek.

Ek staan dus Saterdagoggend gedaan op. En die wind waai steeds...

Saterdagnamiddag gaan koffiekuier ons by tannie Elaine, ek voel soos ‘n nuwe mens na ‘n bietjie grootmens geselskap en lekker lag. Oppad huistoe pik ons pizza en ‘n fliek op. Ons gaan net in ons pajamas hop en voor die TV inval met ons pizza. Ek voel kinderlik opgewonde oor die vooruitsig van ‘n rustige Saterdagaand saam met die kinders.

Tuis wag nuwe drama op ons. Die vlieëvanger (daardie wat so onhebbelik stink!!!!) het afgewaai en ons Kallie-hondjie het te feestelik in die stink gejol. Toe hy ons sien is hy so bly dat hy teen ons opspring. Toe stink ons en Kallie ewe erg. En toe hardloop hy te vinnig vir my oor ons mat op die stoep. Stink, stink, stink!

Half 7 Saterdagaand bad ek eers vir Kallie, toe die kinders en toe myself. Intussen gooi ek eers ons klere en toe daarna die mat in die wasmasjien. En steeds voel dit asof die stank ons agtervolg. Ons begin fliek heelwat later. Nadat die kindertjies uiteindelik in die bed is whatsapp call ek my skoonouers in Engeland. Hulle is so gaaf om my geselskap te hou. Laatnag stuur my skoonma nog biddende handjies om my te bemoedig vir nog ‘n nag van stormwind.

Sondagoggend bel my man uit Madrid. Sy vroutjie is mismoedig en gatvol. Sy vreet hom uit oor die stoute hond, oor die groen swembad en oor die kinders ongehoorsaam is. ‘n Halfuur later sê hy so mooi – “Ek is lief vir jou Suné. Ek voel so magteloos. Ek bid regtig vir jou.”  Toe ek die foon neersit weet ek, ek is so onbillik. Ek is swanger en kwaai. My druiweman het dit nie verdien nie. Dis Sondag en hy sal dalk ook eerder op hierdie heilige dag van die week saam met sy vrou, kinders en stout hondjie by die huis wou wees. Hy sou dalk ook eerder wou kerktoe gaan en na kerk saam met ons melktert en tee wou drink. En ek weet sy gelukkige plek op ‘n Sondagaand is op sy bank voor ‘n fliek.

Ek weet ek is nie die enigste beroepsweduwee nie. Deesdae is daar baie van ons. Ek wil net my hoed vir ‘n oomblik lig vir al die beroepsweduwees daarbuite. Dis vet weet nie altyd maklik nie. Tog weet ek dis so ‘n seën om te weet jou man is sielsgelukkig in wat hy doen.

Ons het vyf slapies oor voor ons pappa beer uit Spanje sal land. En ons kan regtig nie meer wag nie!


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep