Die draadwerkersdieet
’n Wonderlike week in die winter gaan
vertoef ons in Makkiesplaas se Veldhuisie. Hierdie lappie heilige grond waar
daar nog geen google of DSTV of Facebook is nie. My pa verduidelik op watter
hoogtetjie mens kan klim vir MTN-opvangs. Ons stap draaie om daardie
hoogtetjie.
Saans maak ons donkievuur en vroegaand sit
en kuier ons om die gaslamp. Net ek en my man en ons kindertjies. Die
Boesmanland raak koud in die winter – daardie tipe koue wat sny deur jou
gebeendere! Ek gaan met die beste intensies op vakansie. Die oggende is
ongelukkig vriesend koud. Letterlik. Die kripwater en soms selfs die water in
die pype is kliphard vasgevries. Wie draf in sulke koue?!
Ek besluit vooraf dat ek eenvoudige kos
gaan saamneem Veldhuisie toe; nie ‘n enkele slaaiblaar of pit of saad of iets
in die kategorie nie. Die beste wat ek doen is naartjies, rosyne, patats,
dadels en wortels. Die bederf mos nie so maklik nie. Saans sal ons braai en ‘n
vorm van brood daarby maak. Ek neem genoeg ordentlike bruinbroodmeel en pakkies
groen kitsgis saam. Smeergoed vir die brood hou ek ook eenvoudig. Ek pak net
grondboontjiebotter, vet (spierwit ongesonde uitgebraaide skaapvet), Marietjie
se appelkooskonfyt en Bovril.
En laat mens nou maar eerlik wees –
kalorieë is die allerlaaste ding waaraan ek dink as ek vet en appelkooskonfyt
dik plak op ‘n vars roosterkoek…
Een aand kom braai my pa by ons in die
Veldhuisie. Ek weet sy stryd om gewigsverlies is ook fel. Hy eet die heel aand
besonders gedissiplineerd. Toe ek my nagereg roosterkoek smeer, met ekstra vet
en appelkooskonfyt, is dit asof iets in my pa se kop “snap.” Verergd merk hy op
dat ons asseblief die bak met roosterkoek moet aanstuur na hom toe. En dan as
‘n nagedagtenis – dis regtig nie sy skuld dat hy so dik is nie. Wie kan nou so
‘n vertoon van smeer-en-eet van my roosterkoek weerstaan. Hy moet eenvoudig nou
dieselfde vir homself smeer.
Die volgende oggend gaan drink ons by my pa
koffie om hom te groet. Die ou lyk mismoedig. Absoluut DIE dikste wat hy in sy
ganse lewe was, verklaar hy. Hy kom nou net van hul baie nuwe elektroniese
skaal af. Die ding maak nooit foute nie. Maar hy sukkel regtig so om homself te
briek, probeer hy verduidelik. Kyk nou byvoorbeeld gisteraand.
My pa hoef glad nie omverskoning te vra
nie. EK ken van vergryp…
Kom ons werk ‘n strategie uit, probeer ek
my pa motiveer. Plotseling kom sy draadwerkers as gedagte by my op. Hulle is
regtig maer en hulle eet hoofsaaklik brood en vleis. Ek kan sien my pa kry
hoop. Dit klink na ‘n uitstekende plan. ‘n Dieet bestaande uit net brood en
vleis klink na iets wat vir hom haalbaar is. Hulle eet sommer taaaamlik vleis,
praat my pa terwyl hy ‘n stuk beskuit in sy koffie doop.
“Surra, jy moet hulle brood sien. Ek dink
hulle knie dit met sagtevet. Anderdag het ek gevra of ek van hulle vetkoeke mag
proe. Dit het so lekker gelyk. Die vet het sommer so by my mond afgeloop met
elke hapslag," vertel my pa.
Nou is ons albei opgewonde. Brood, vet en
vleis in absolute oordaad – wat kan nou lekkerder wees. Ons besluit ons moet ‘n
naam kry vir die dieet en dit begin bemark. Dit kan hom dalk ryk maak, spot my
pa saam.
Ons sal dit die DRAADWERKERS-dieet noem.
Ons wil ‘n facebookbladsy stig met Collin en Klaas se foto’s op die tuisblad,
sodat almal kan sien waarnatoe hulle werk. Ons sal broodresepte en vleisresepte
uit hul skerm post.
Dan gaan ons ryk en maer raak, lag ek en my
pa. En dan eet ons maar elkeen nog ‘n ou stukkie beskuit, want as mens kuier om
‘n kombuistafel en jy kan uit jou maag lag oor die dinge wat druk, tel mens
wragtig nie kalorieë nie!
Comments
Post a Comment