14 jaar
Namiddag kom stop my buurvrou van ‘n handvol jare gelede onverwags by my voordeur. Sy kom lewer net ietsie van my sussies af vir my af. Sy haal ‘n bos blomme en ‘n boksie netjies verpakte wortelkoek van agter haar sitplek af uit. Dit moes ‘n tussie mussie wees, maar sy dink nie die Paarl se tussie mussies lyk soos Kakamas sin nie, beduie sy. Die Boland sin is met mooi fynbos en ‘n paar ligpienk angeliere. My ma was altyd so lief vir angeliere. My pa het haar so graag verras met ‘n angelier wanneer hy dit in Kakamas kon kry. Die tussie mussies wat tannie Ters altyd so getrou koop het roosmalva en laventel in. Dis weer sonder die fynbos. Ek stuur ‘n foto vir my sussies van hul mooi geskenk (My sussies, tannie Ters en Liesel het saam gaan koek en koffie in Kakamas vandag om sommer net vir ‘n oomblik by hierdie dag stil te staan.). Laat namiddag deel ek ‘n snytjie wortelkoek vir die drie kindertjies. Ek vertel hulle weer van ouma Annamarie. Tussendeur happe wortelkoek kondig Adriaan aan dat hy baie van ouma Annamarie hou. Ek dink hy reken sulke opmerkings kan dalk meer gereelde wortelkoek waarborg.
En toe, toe almal in die bed is skep ek die laaste stuk
wortelkoek. Vir myself. 14 jaar is so ‘n lang tyd. Dis seker so so simpel, maar
elke jaar hou ek die horlosie dop. 12-uur dink ek: 14 jaar gelede het my ma nog
hierdie tyd gelewe. As ek 3-uur weer op my horlosie kyk weet ek: 14 jaar gelede
het Ds. Peet my gebel om te laat weet dat iets verskrikliks gebeur het.
Dit bly onwerklik.
Na al die tyd voel dit deesdae of ek my ma se hande die
beste van alles kan onthou. Haar hande kon raakvat en troos en vermaan en
onthaal en liefhê en skep en plant en bak. Haar hande kon álles.
En dis wat ek 14 jaar later nog oorhet van my ma. Prentjies in my kop en my
hart. Iemand sê anderdag – sjoe, jy het so verskriklik min tyd met jou ma
gehad. Dankietog dat my ma haar tyd so spaarsamig en oordeelkundig gebruik het.
Sy het haar kort tyd op aarde gebruik om haar drie meisiekinders se koppe en
harte vol prentjies van haar te maak.
Comments
Post a Comment