Piet en Lena se Plaastroue
“Hulle is al lank saam, sy en Piet. Since nineteen ninety four. Hulle was by die plaas al baie lank. Maar sy en Piet, hulle het besluit hulle wil nou trou. Sy wil nou by Piet sy vrou wees,” verduidelik Lena mooi toe ek vra oor haar en Piet se pad saam.
Marietjie het by tannie Charleen op die buurplaas gaan
aanklop vir ‘n trouskepping vir Piet en Lena se mooiste dag. Lena het by die
ander buurvrou, Retha, gereël vir ‘n regte egte troukoek. Retha ry
naweek vir naweek die mooiste koeke Pofadder toe – van spierwit troukoeke tot
derde verjaarsdag Toystory koeke tot vonkelwyn-wat-uit-die koek bars vir
veertigstes. Lena wou so ‘n koek hê – ‘n mooi wit koek met haar en Piet
se name op met blomme. Stan het die laaste paar jare uiteindelik uit sy matriekafskeid pak
gegroei. In elke boer se kas is daar twee pakke: Jou matriekafskeidpak en jou
troupak. Teen veertig is jy uit albei gegroei, want die vrouens in die
Boesmanland mag maar kosmaak. Hulle doen nie eenbak geregte met slaai soos ons
dorpsvroutjies nie. Hulle kóók.
Marietjie vind op Pinterest wonderlike Tswana-troue idees
vir Lena se gevolg in terme van kleredrag. Lena het immers ‘n indrukwekkende
gevolg en kleredrag is daarom belangrik. George (Marietjie-hul se jongste) en
Adriaan (ons jongste) sal Lena inbring op haar groot dag. Daniël,
die derde nefie is die ringdraer en Marietjie maak koningsblou dasse vir die
manne. Die drie niggies lyk ook alte fraai in hul Pinterest Tswana drag.
Die storie spring ‘n bietjie rond, maar ek is so bang dat ek
iets van die groot dag vergeet. Ek skryf dus maar soos dit terugkom!
Die dag voor die troue versier Lena en haar beste vriendin,
Hilda, die stoor/saal met wat hulle tot hulle beskikking het. Lena ontdek ‘n
stuk skadunet en span die vaal mure van die stoor met die skadunet toe. Ons
drie sussies is vlaggie mense en ons glo ‘n vlaggie uit die dak of teen die muur
maak die lewe ‘n beter plek. Dus span Lena ‘n vrag vlaggies uit Marietjie se
versameling in om die skadunet op te vrolik.
Ons breek aalwyn uit Marietjie se tuin af en sit dit in
glaspotte op die tafels as “blomme.” Klein windpompies staan gesellig rond op
die kostafel. Heel gepas is die bruilofsmaal vuurkos – braaivleis, gebraaide
hoender, roosterkoek, noedelslaai en aartappelslaai.
Dit neem ook ‘n rukkie voor Lena besluit waarop sy die
paadjie wil afstap na haar bruidegom. Die troumars klink nie lekker nie, skud
Lena haar kop. “Vlieg hoog” van Juanita is te vinnig. Marietjie google “Tswana-liedjies”
en Lena besluit op ‘n liedjie wat iets klink in die lyn van “Die vrou trou
vandag” as mens dit vertaal. Lena lyk tevrede.
Nog ‘n ander buurvrou, Nicola, kom van die buurplaas om Lena
se grimering te doen. Sy verf ook Lena se naels en mens kan sommer sien hoe
mooi Lena voel. Nicola sê so mooi – Lena is mos ons almal se Lena en daarom wil
almal deel wees van Piet en Lena se mooiste dag. Lena is nie een vir veel
emosies nie, maar Lena lyk tevrede. En trots op haar mooi rok en haar mooi
naels en haar mooi rooi lippe.
Toe die bruidsmotor voor die saal stop kom maak George vir
Lena die deur oop en die twee neefs staan gereed om met haar in te stap. Die
niggies stap vooruit met draad harte. Lena se beste vriendin stap net voor haar
in die saal in. Hilda is self uitgevat in ‘n stywe wit rokkie met swart
wolsteweltjies en ‘n wilde bos (nuwe) hare.
Die magistraat doen die wetlike deel in Pofadder en dis die
belangrike belofte voor God wat Lena en Piet op 8 Oktober 2022 op Millerton
voor hul uitgesoekte gaste maak. My pa bring ‘n spesiale boodskap vir die twee
en Piet en Lena sit sommer in kampstoele terwyl my pa die boodskap bring. Piet
is al in sy sestigs en die ou se knieë is nie meer wat dit was nie.
Konfetti is ook belangrik. En selfs daarvan vergeet
Marietjie en Lena ook nie. Kalkoentjiebos is hierdie tyd van die jaar vol sade
en hierdie sade word ingespan vir konfetti.
Laataand gaan staan ek by die hek van Marietjie-hul se werf
en kyk in die donkerte na die helder verligte stoor. Dis ‘n pragtige volmaan
aand. Eintlik die perfekte aand. Die gaste is almal vriende van Piet en Lena
van die buurplase. Dis net ‘n handjievol gaste, maar die bruilof is vrolik.
Soos dit moet wees. Een van die gaste het met ‘n hoender onder die arm kom
afklim as trougeskenk vroeër vanmiddag.
Toe ons skuins voor middernag in die bed klim speel “Rooirok
bokkie” en iemand lag lekker. Piet het vroeër kom vra die musiek, hoe laat
hy moet af wees. Stan het geantwoord dat mens nie musiek hoef af te sit by jou
troue nie. Die musiek, hy kan maar speel tot jy moeg is.
Ons voel bevoorreg. Ons was daar. Ons eerste Tswana troue. In die Boesmanland. Mag Piet en Lena sommer nog vir baie volmane vir mekaar gespaar word.
Comments
Post a Comment