Beurtkrag

BEURTKRAG
Ons is waar almal is. Ek het drie ure om hierdie storie te skryf, te post, die skottelgoedwasser te pak en aan te sit, drie vinnige bondels wasgoed te was, alle liggies te laai want dis netnou aand, ons koffiebottel vol kookwater te maak, aandete voor te berei. Ek sal werklik jok as ek sê dit doen niks aan my gemoed nie, want dit doen nie niks nie. Ons gesin is mal oor ons land. Ons is trots Suid-Afrikaans en as dit die Here se wil is sal ons regtig nooit graag hier wil gaan nie. Ons wil ook patriotiese kinders grootmaak en daarom probeer ons om eerder altyd die goue randjie rondom die donker wolkie te sien. Ons probeer mooi en versigtig dink oor die woorde wat ons spreek. Ons probeer lewe spreek – veral op hierdie stadium oor Eskom!!! Daar is een ding wat die wêreld ons moet gee: Suid-Afrikaners is aanpasbaar. Elke vlak wat ons op beweeg in nóg minder krag maak ons nuwe planne. Ons raak kreatief in tydverdryf met ons gesin. Ons speel meer bordspeletjies as ooit vantevore. Ons dink nuwe speletjies saam met ons kinders uit. Ons leer om meer te doen met die bietjie krag wat ons steeds het.Selfs die Kersspyskaart moet hierdie jaar beplan word rondom die beurtkrag skedule. Vergete is die dae van Sondagkos met skaapboud, pampoenkoekies, rys en bakaartappels vir die Kersmiddagete. Wie sal nou weet of ons krag gaan hê vir die Kersete?
Soms betrap ek myself egter dat ek goed kwaad is. EK weet werklik nie eintlik vir wie nie. Want ek is seker daar werk ‘n hele span baie goeie, toegewyde, hardwerkende mense by Eskom, en niks van hierdie probleem is hulle skuld nie. Maar hulle moet hard stoei om dit te help oplos. Ek raak goed vies oor hierdie nuwe “normaal” waaraan ons alweer moet gewoond raak. Ek raak vies oor ‘n woord in ons woordeskat waarvan ander lande seker nie eens weet nie. BEURTKRAG?! Ek raak so hartseer vir klein besighede wat besig is om stadig maar seker te verdrink in ekstra onkostes van “generators” en alles wat daarmee saamgaan. Ook groot besighede, plase en so kan ek aangaan. Iemand vra anderdag of ons al na Soweto se beurtkrag skedule gekyk het. Ek dog eers dis weer van daardie hoor-sê stories. Toe gaan laai ek sommer die skedule self af om met my eie oë te sien. So wrintiewaar, selfs op vlak ses het Soweto net twee ure op ‘n dag beurtkrag. As jy elektrisiteit soek moet jy beslis nie na die Wes-Kaap kom nie. Soweto is gelukkiger as ons. Ons hou aan bid vir Eskom en André en ons president en ons land se misdaad. Ons glo ons en ons kinders gaan nog sien hoe die gety draai. Soms, net soms, raak ons vir ‘n vlietende oomblik so ‘n klein bietjie vies en mismoedig.
Maak altyd die beste van ‘n goeie ding, maar nooit die slegste van ‘n slegte nie. (CJ LANGENHOVEN)

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep