Cappucinos: 'n Ma-en-dogterding

Dit was ons gunsteling plek saam met my ma. Die cappuccinos is altyd bedien in sulke vetmaag bekers op ‘n blaar op ‘n piering. Elke cappuccino is vergesel deur ‘n fraai koekie. Ons kon natuurlik nooit wag om te sien wat op die tafels was as versiering nie. Soms was dit daisies in blikemmertjies, ander kere weer ‘n vetplantjie. Saam met jou spyskaart het jy ook altyd ‘n klein blikbekertjie sap gekry. En ‘n nickerball en saadjies saam met jou rekening.

Geen koffieplekkie kon nog ooit naby Get Together in Bloemfontein kom nie.

In hierdie einste koffieplekkie het ons ure omgekuier met my ma. Sy het ons gewoonlik so een maal per jaar kom besoek in Bloemfontein terwyl ons nog daar studeer het. Dan sou Get Together kuiers van die hoogtepunte wees. Ons het nooit eintlik daar geëet nie. Ons het net onverskillig baie cappuccinos gedrink en hartsgoed gepraat. Ek en my ma en Marietjie, my middelste suster.

Diè dat my gemoed anderdag so deurmekaar was toe daar drie vrolike mammas saam met hulle dogters kom koffiedrink in Frothy’s, die koffieplekkie waar ek tans werk in Engeland. Dit was Engelse mammas met hulle Engelse dogters. Hulle velletjies was bleekwit en hulle maniertjies fyn, maar hulle het ook cappuccinos kom drink. Hulle was nie so uitbundig soos wat ons drie soms kon raak nie, maar hulle het ook hartsgoed gepraat. Ek kon dit sien aan die manier waarop die mammas na hul dogters kyk.

Daar’s geen ooreenkomste tussen Frothy’s en ons Get Togher in Bloemfontein nie. Frothy’s bedien nie vetkoek of gemmerbier of moerkoffie met natbeskuit nie. Hulle ken nie van volgraanmuffins of ordentlike rooibostee nie. Tog week ek dat ek en my ma en Marietjie net so tuis daar sou wees – met cappuccinos natuurlik. Ons sou nie eens omgee dat hulle net skons bedien met rosyntjies in en “toasted tea cakes with cream and jam” en ander volksvreemde kosse nie.

Daar’s net een of ander misterie omtrent ma’s en dogters in knus koffieplekkies met cappuccinos.

Ek’t gedink na byna twee jaar leer mens om nie meer te verlang na sulke spesiale kuiers nie. Tog bring dit ‘n diep verlang as jy sien hoe ander mammas en dogters saam kuier oor vetmaag koppies.

Ek en my ma en Marietjie sal ons cappuccino kuiers weer eendag in die hemel hervat. Intussen drink ek en my sussie so dikwels saam koffie as wat ons kan…en dink dankbaar terug aan baie mooi koffiekuiers.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep