Skype tussen Pofadder en Engeland

Sondagmôre dou voor dag sms my jonger sussie uit Pofadder dat sy goeie nuus het: Iemand het vir hulle skype op hulle rekenaar gelaai. Hulle gaan later kerk toe, en dan is daar ‘n braaitjie saam met haar skoonmense vir die Sondagmiddagete.

Sondagaand is ons afspraak vir stiptelik 20:00. Ons kan uiteindelik opvang. Heilige tyd tussen twee susters.

Die Sondag gaan te stadig verby. Ek hou die horlosie heeldag dop. Dit wil-wil voel asof tyd stilstaan. My onrustigheid dryf my man byna teen die mure uit. Hy waarsku versigtig dat ek moet onthou dat daar altyd ‘n moontlikheid van komplikasies kan wees. Ek besef dat my vreeslike diplomatiese man iets op ‘n mooi manier probeer oordra...

“Watse komplikasies,” vra ek, natuurlik sommer onmiddellik op my perdjie. Ek kan aan sy stem hoor dat hy weet dat dit nou tyd is vir mooi trap.
“Uhm, mens weet nooit hoe goed die konneksie tussen Pofadder en Engeland gaan wees nie my engel,” antwoord hy oorversigtig.

Ek skrik byna self vir die ontploffing wat volg. Ek verwyt my man vir sy pessimisme, sy ongeloof en sommer nog ‘n klomp ander goed. Na die verwyt volg die trane. Ek wil nie eens daaraan dink dat ek miskien nie met my sussie gaan kan gesels nie. Verlang kan ‘n vreeslike ding wees. Net mense wat ken van verlang sal dit inelkgeval verstaan.

Sowat ‘n uur voor die groot oomblik stel ek al die rekenaar op en kry als gereed. Ek vat ook sommer my dagboek en maak so vinnige lysie van dinge wat ek moet vra en vertel.

Dan breek die oomblik aan. Ek sien my sussie op die klein rekenaarskerm en sy lyk nog presies dieselfde as 6 weke gelede. Haar bokstert is kinderlik in haar nek soos sy dit so graag dra. Langs haar sit haar man , Stan, boerseun van die Pofadder geweste. Hulle lyk altwee heel giggelrig – dalk is dit senuwees. Dis hulle heel eerste skype ervaring.

Wanneer ons wil begin gesels is daar geen klank nie. Niks. Ons worstel aan hierdie kant en hulle druk verwoed knoppies aan hulle kant, maar Pofadder se sein is eenvoudig nie na wense op daardie stadium nie.

Ons gooi later maar handdoek in. Ek’s natuurlik ontroosbaar. Ek kan nie lekker onthou wanneer laas ek so lekker gehuil het nie.

My man sê genadiglik nie eens een keer: Ek het jou mos gewaarsku nie. Hy bring eerder sy selfoon en dring daarop aan dat ek my Marietjie-sussie nou maar eerder bel. Dis darem beter as niks nie.

Ons kuier dus Sondagaand ons sussie-kuier duisende kilometers ver oor die telefoon. En dit bly ‘n fees. Sy vertel van hul nuwe hondjie wat nie sy dag kan begin sonder koffie nie. Dis die huishulp wat hom sulke swak maniere aangeleer het. Sy vertel van die buurtannie wat hulle kom nooi het na die volgende biduur op die plaas. Sy vertel ook van die kleuterskooltjie wat sy elke Vrydag op Pofadder het vir die plaaskindertjies.

Sy lag vir my as ek vertel hoe moeg ek is van Engels praat. Sy kry my jammer as ek vertel hoe ek verlang na groot braaivleisvuur en vet skaaptjoppies. Sy troos as ek huil toe ons uiteindelik moet groet.

En so knap voor my heel laaste “baai”, verseker sy my dat sy nie kan wag dat ek moet terugkom nie. Ek moet die presiese datum tog betyds laat weet. Sy wil die spyskaart vir ons kuier lank vooraf al begin beplan.

Sy beloof dat ons baie sal braai. Die vleis sal vet wees. En vir die afklimslag sal daar wortelkoek en moerkoffie wees…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep