Lekker was nog nooit so lekker

Ek’s van daardie vervelige mense in die lewe wat eers dinge mooi oordink voor ek doen. Ek gaan nooit in my lewe “bungee jump” doen nie en die Kobra in Ratanga was ‘n verskriklike vreesaanjaende ervaring.

Maar gisteraand het ek terwille van my Wilma-vriendin wat al in die na  nag saam met my gehuil het oor seergoed, die waaghalsige gedoen.

Na werk is ek in my betroubare silwer Grietjie al die pad Paarl toe vir Wilma se kwarteeu viering. Anders as so baie ander, is sy regtig trots oor hierdie nuwe jaarring wat by 24 ander gevoeg is.

Sy belowe my per epos dat die partytjie nie laat sal aanhou nie. Dis darem immers die volgende dag ‘n gewone werksdag. Uit ondervinding weet ek dat Wilma die waarheid effe sal skeef praat om my in die Paarl te kry.

Met my afklimslag by haar huisie, staan die glasie witwyn gereed. So ken ek Wilma. Ons poeier eers ons neuse en dan vat ons die pad na 10 Chapters. Dis so oulike plekkie met regtig ‘n lekker atmosfeer. Wilma se sus Ilse het gesorg vir ekstra atmosfeer met nommerpas tafelversierings.  Vrolike wit-en-rooi polkadot tafeldoeke met bypassende wit en rooi “Baberton daisies” laat Wilma se verjaarsdag sommer by voorbaat na ‘n feestelike geleentheid lyk.

Die hoektafel met vonkelwyn en oesters trak gaste sommer met die afklimslag aan. Ek moet Wilma alle eer gee – sy’s verseker die koningin van partytjie hou in my vriendekring. Dis waarskynlik waarom sy geweet het dat “Lekker”, een van die lekkerste vonkelwyne op die mark is. Om te sê dis sekerlik een van die lekkerste borreltjies wat nog oor mý tong is, sou ook nie t ever van die waarheid wees nie!

Gaste kon weglê aan heerlike kase, tappas, en….Lekker!

Vir nagereg was daar ‘n sjokoladefontein met die mooiste, vetste aarbeie en malvalekkers. Baie gaste het by daardie fontein begin en sommer vir die res van die aand daar vasgehaak.

Iewers rondom 12-uur het die eienaar van 10 Chapters eenvoudig geweier dat ons “Diamante vir jou”, nog ‘n keer luister. Wilma se jonger sussie het mooi kom vra of ons nie asb. kan huistoe gaan vir koffie nie.


Wilma se handjievol bittereinder maatjies is toe huistoe – met ‘n bottle of wat Lekker om die aand mee te sluit.

Ek moet bieg – ek het nie die einde van die aand gesien nie. Skuins na 1 het my verantwoordelikheidsin my bedtoe gejaag. Ek moes immers oor ‘n skamele 4 ure weer die pad Ceres toe aanpak.

Van Wilma se bittereinder laatnag maters, het net ek en Nico die volgende dag voldag gaan werk. Die res het siek ingebel werk toe.

Want sien, uit ondervinding moes ons leer dat Lekker, of te veel Lekker, nie te lekker maak nie!

‘n Wekie later nooi Wilma my weer per epos vir ‘n Lekker kuier.

Ek dink nog wat ek haar gaan antwoord…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep