eenvoud


Boesmanland - die moeder van eenvoud

                                              

Nuwejaarsvoornemens was nog nooit iets wat ek ligtelik opgeneem het nie. Iewers langs die pad het ek egter net moeg geraak om myself elke liewe jaar teleur te stel. Die nommer op die skaal kon nooit klop met die nommer wat by 1 Januarie staan nie. Die karaktergoedjies waaroor ek wroeg het maar elke jaar hier teen Desember 'n laagtepunt bereik - wanneer ek goed moeg is vir die jaar.

Toe neem ek drie jaar gelede 'n belangrike besluit. Ek sou net bid vir 'n woord. Vir 'n enkele woord vir die jaar wat wink. Die Here was vreeslik getrou met die woorde wat ek in 2020 en 2021 ontvang het. Toe kom hierdie jaar se woord. Ek het vir byna 'n maand oor hierdie woord gebid. Op 1 Januarie was dit kristalhelder. My woord vir 2022 moes eenvoud wees. 

Dis 'n lekker eenvoudige woord vir die jaar, het ek taamlik selftevrede gereken. Die jaar begin voorspoedig met 'n toevallige kuier saam met ons Upington-niggies saam met wie ons grootgeword het. Dit raak 'n feestelike storie so tussen ons vier niggies. Drie van ons het elkeen drie kinders. Anneen, die oudste van ons vier, spog met vier kinders onder die ouderdom van ses.

Anneen moet eenvoud verstaan, besluit ek. Ek vra 'n 1000 vragies op Strandfontein se strand terwyl ons magdom kindertjies in die Weskus se yswater swem. Veral oor kosmaak, want dit neem baie tyd. Omdat Anneen-hul in Engeland woon doen sy tuisonderrig met die oudste tweetjies. Sy het nie 'n huishulp nie en sy kla oor niks nie. In my nuwe dagboek maak ek saans notas. Mens moet anders dink oor kos, verduidelik my wyse niggie. Vergeet van swierige maaltye met verskeidenheid op die bord. Fokus eerder op voedselgroepe. As die son sak en haar kinders het nog nie avokadopeer gehad vir die dag nie (Belangrike vette), kap sy 'n avokado of twee op en dis sommer aandete. Of vir middagete verdeel sy 'n komkommer in die hoeveelheid mense om die tafel saam met 'n eier of so. Mens moenie dat die lewe by jou verby gaan terwyl jy ure opkap aan vrugte en groente vir mooi uitpak op jou kinders se bord nie. Wees prakties, wees vinnig en wees gesond. Maak seker jy kry iets van alles in elke dag. Dit behoort die belangrikste fokus te wees. Die HOE is minder relevant.

Familiekuier - toevallig en feestelik!

                                       

Oppad huistoe na 'n heerlike vakansie is ek verfris en uitgerus. My dagboek is halfvol geskryf met planne en idees om eenvoudiger te leef.

Ons trek by Maart. Ek faal liederlik. Dinsdagmiddag sit ek op 'n kombers saam met mense op Waffle & Co se grasperk terwyl een van die kinders besig is met 'n buitemuurse aktiwiteit. Ons praat oor dit. Stadiger en eenvoudiger leef. Ek kry dit nie reg nie julle, bieg ek eerlik. Ek weet nie of ek weet hoe nie. Covid het ons tot stilstand geruk en ons pas verstadig. Ons het geleer om stadiger te leef en ons het dit begin geniet.

Nou dit. Terug na ons gejaagde normaal. Dis nie meer vir my lekker nie. Terwyl ons daar sit kom gesels 'n ander man saam. Ek kan nie sy naam onthou nie. Net sy storie. Hulle het alles verkoop om vir 'n jaar lank op 'n "road trip" te gaan. Hulle het nie 'n vaste plan nie. Dis meer soos 'n avontuur. Of 'n gaan-waar-die-Here jou lei. Hulle het vyf kinders en hulle geniet die lewe saam met hulle kinders.

Ek bel my middelsus wat mos altyd so pynlik eerlik is. Net anderdag het sy 'n storie oor eenvoud van my gelees. My boekie is mos op die bad se rand langs hulle toilet. Die boekie het onlangs in die bad geval, maar het darem genadiglik mooi droog geraak. Sy punte krul net so bietjie op. In daai boekie is 'n mooi eenvoud storie. Ek onthou niks van die storie nie. Ek het blykbaar geskryf dat daar rykdom opgesluit is in eenvoud. 

Toe het ek en Lambrecht nog niks gehad nie. Net mekaar. Eenvoud was makliker. Nou is daar drie kindertjies, 'n Rassie-hond, ballet en krieket en tennis en magdomme huiswerk na 'n lang skooldag en mondeling en baie kosblikke en so sal ek vir lank kan aanhou.

Heeltemal te veel goeters.

Die kombers vriende vertel van 'n webtuiste wat gaan oor "Simplicity" en Jesus. Terwyl ek daardie aand vier kosblikke pak begin luister ek die eerste preek.

Stap een van eenvoud:

Wees by Jesus.

Ek probeer in my lysie-gedrewe dagboek ekstra tyd soek vir ekstra tyd met Jesus (Terwyl ek nog verder luister.) John Mark Comer maak eenvoudig baie eenvoudig. 

Wees met Jesus waar jy is, met wat ookal jy doen. Terwyl jy kosblikke pak of skottelgoed was, of ballet toe ry, of sit en wag vir die tennis om klaar te maak. Die heeltyd en orals. Want dit was die ander ding van eenvoud wat besig was om my te breek. Dit vat SO SO baie beplanning om eenvoudiger te leef. My kop was die heeltyd besig met beplanning en plannetjies.

Ek is vasberade en intensioneel en opgewonde om eenvoud na te jaag. In alles en met alles. Want soos die bordjie wat by die Veldhuisie skerm hang tereg verklaar:

Grond wat gerus het kan 'n goeie oes lewer.





Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep