My Marietjie-sussie uit Pofadder se vlaktes kom kuier
verlede week vir drie nagte hier by ons. Sy het saam met ons teruggekom Paarl
toe na die langnaweek. Woensdag sou sy weer saam met Jaco en Sarien, hul
plaasbure, huiswaarts keer.
Ek’s natuurlik giggelrig oor hierdie spesiale tyd saam met
my een sussie. Sy moet ongelukkig nog vir oulaas op ‘n matras slaap in die
kamer met net een gordyn. Ons mooigoed uit Engeland behoort darem binne die
volgende week met die skip te arriveer. Ek belowe Marietjie dus plegtig dat sy
met haar volgende kuier op ‘n ordentlike bed sal kan slaap.
Oppad Sondag wil ek weet vir watter Kaapse kos is sy lus.
Tipies aan my oudste gene wil ek solank spyskaart beplan. Sy’s lus vir snoek en
“take aways.” Ek moet net asseblief nie kookkos maak nie. Sy eet dit elke dag
by haar eie huis, verseker sy my.
By ons Paarl-huisie aangekom, kom Marietjie kombuis toe met ‘n
sakkie bederfies uit die Boesmanland. “Hierdie is sommer ‘n paar van
Steyn-hulle se lemoene. Jy het dit laaskeer so geniet. Hulle is mos so
annerster soet. Buurvrou Sarien stuur hierdie koeksistertjies. En hier’s bietjie rosyntjies wat ek by
Pappa-hulle gekry het. Ek het hulle skoongemaak en gewas. En ‘n paar stukkies
droëwors.
Suster, en hierdie biltonkies is net vir jou. Steek hulle weg. Ek sien Pappa
het vir Lambrecht lekker beesbiltong gegee. Hierie is net joune,”verduidelik my
Marietjie-sussie voordat sy dit onder in die yskas druk, onder die slaaiblare
en tamatie.
Dan wil ek sommer ‘n traan pik. Hierdie Marietjie-sussie van
my saam met wie ek huis-huis in die skaapkraal gespeel het, saam met wie ek in
elke kamp ‘n boshuisie gehad het – hierdie sussie se omgee is so wyd soos die
Boesmanland.
Maandagaand braai ons ‘n snoekie, met knoffelbrood en ‘n
uitbundige mengelslaai. Ek weet uitbundige mengelslaaie is skaars op ‘n plaas.
Dinsdagmiddag gaan eet ek en Marietjie ‘n Macdonalds “meal” met ‘n klein
hamburger, klein chips en ‘n cream soda. Marietjie lyk asof sy aan ‘n feesmaal
smul. “Oe, ek’s mál oor MacDonalds,” verklaar sy tussen happe deur.
Dinsdagaand het Lambrecht ‘n werksete aan. Ons gaan kry dus Romans pizza vir
aandete. “Hawaiin vir my,” besluit Marietjie dadelik. Sy eet nooit iets anders
as hawaiin nie, en sy het ook nie ‘n begeerte om iets anders te proe nie, knip
sy my protes kort. Ek voel natuurlik hawaiin is absoluut te alledaags vir ‘n
Bolandkuier saam jou sussie.
Ons kuier Dinsdagaand op my sagte lapbank – met wyn en
pizza. Sy sit onder my blou kombersie en ek onder die gele.
Ons gesels oor alles waarvoor ons nooit kans kry nie. “Suster,
ek sou nooit kan lewe soos jy nie. Soggens jaag jy om by die werk te kom. Saans
jaag jy weer om by die huis te kom. Dis ‘n gedurige gejaag. Wanneer kry jy kans
vir regtig stilraak of verlang na jou man deur die dag?” Haar dag draai om
Stan, verduidelik sy. Gaan hy by die huis wees vir teetyd? Hoe laat kom hy vir
middagete? Na ‘n heel dag alleen by die huis, net sy en Lena en RSG, kan sy nie
wag vir haar man om by die huis te kom nie.
Ek dink aan ons lewe en my oë trek onwillekeurig trane. Daar’s nie
tyd vir teetyd of verlang of naaldwerk doen of tuinmaak nie. Laataand huil ek
by my man in die bed. Ek verduidelik dat my hart gebreek is omdat ek nie deur
die dag saam met hom kan teedrink of deur die dag net sit en na hom verlang
nie. Hy lag en sê ek’s laf. Ek sou hom malmaak as ek net heeldag vir hom sit en
wag het. Ook my Lyndi-vriendin sê ek’s skoon simpel. Die Here ken my goed. Hy
weet ek hou van besigwees. Ek’s presies waar ek moet wees.
Oppad werktoe Woensdagmôre bid ek dat die Here my wys en
gebalanseerd sal maak soos my ma en Marietjie. Marietjie sms later dat ek my
trane moet opdroog. Ek hou alle balle baie mooi in die lug. My ma sou trots
wees.
En buitendien is almal nie gemaak vir heeldag alleenwees met RSG
nie. Mens verlang ook nou nie élke dag
na jou man nie. Ek moet seblief net ontspan…
Sjoe! Ek het ook 'n sus wat ver woon op 'n plaas in die Noord-Kaap en daai reëltjie: "ek sou nooit kan lewe soos julle nie...", hom het ek al gehoor!
ReplyDeleteSommer dankbaar vir my sus ook! ♥ Lize