Jou voordeur


“Wat’s agter jul voordeur?”

 Hy sit die vraag so onverwags op die houttafel tussen ons nege vrouens. Dis my eerste oggendbybelstudie saam met hierdie vrouens. Die groepie is baie uiteenlopend. Sewe van ons is Afrikaans en versigtig. Ons kleredrag is konserwatief. Die ander twee is Engels en meer uitgesproke. Die vraag laat almal egter ietwat ongemaklik rondskuif. Dis maklik om te skuil agter mooi klere en in blink motors. Wat agter ons voordeure aangaan is mos persoonlik.

 Die Engelse donkerkop met ‘n gryserige jas en swart “boots” aan, waag dit eerste. “We are not fun anymore. Everything is about performance. You need to perform to be accepted. I’m  fighting against this lie society is telling us.” Almal knip kop. Ons “fight” almal saam, sien ek. Jy moet reg loop, op die regte plekke koop, na die regte kerk gaan, met die regte motor ry en in die regte adres bly. Dis ‘n felle oorlog om te stry.

 Ek dink skielik aan ons eie  voordeur. Agter daai deur is ‘n lapbank omdat ek nie van leer hou nie, en ‘n leerbank omdat my man nie van lap hou nie. Daar’s ‘n houtkis uit oupa George se werkskamer en ‘n reuse boekrak wat ek met my eerste salaries gekoop het. Daar’s die wit kassie wat Marietjie en Lena vir ons geverf het en daar’s die spesiale hout bed uit my skoonmense se huis. En dan is daar die tamaai eetkamertafel – heeltemal te groot vir ons huis, maar baie spesiaal vir my. Dit was immers my ma se tafel. Alles in ons huis maak deel uit van ons storie.

 Soms is dit feestelik agter ons voordeur. Ander dae gaan dit moeiliker. RSG is altyd deel van ons huis se atmosfeer. Ons wag nog vir ons TV om te arriveer, dus is RSG al wat ons het. Agter ons voordeur is nog nie kinders of katte of honde nie. Ons probeer nog net Marietjie se basieliekruid en roosmaryn aan die lewe hou.

 Donderdagmiddag drink ek ‘n koffie saam met tannie Louise. Ons raak heel filosofies oor die lewe. “Ou Sunétjie, laat tannie Louise nou vandag vir jou iets leer. Die Here hou mens nie aan die lewe nie. ‘n Mens hou ‘n hanslam aan die lewe. Die Here hou ons ín die lewe. Dawid sê iewerster in Psalm ook so.”

 Tannie Louise laat my lank na ons koffie nog dink. Dit maak seker nou nie vir die Here saak hoe blink jou voordeur is, of wáár hy is nie. Jesus hou ons inelkgeval en ten spyte van, elke dag in die lewe.

 Ek’s nog te skaam om vir donkerkop te vertel van tannie Louise se in-die-lewe storie. Maar volgende keer sal ek. Want niks maak meer saak as Jesus wat ons elke dag in die lewe hou nie. En dit moet mens nooit vergeet nie.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep