Ons derde matriekafskeid

Nege jaar gelede was dit my matriekafskeid. Tannie Lee, my ma se baie knap buurvrou, het my rok gemaak. Die materiaal het hulle tweetjies sommer self vir my uitgekies. Blykbaar kon ek niks anders as bottelgroen waag dra nie. Die materiaal is terloops teen ‘n ongelooflike winskoop bekom. Die laaste afronding was die fyn kraletjies op my bostuk. My ma en tannie Lee’tjie het daardie krale so met die bottel Amarula liquor tussen hulle aangevat . In ons Makkiesplaas kombuis met RSG op die agtergrond.
Abrie Pieterse was my “date”. Hy het my nog in die Skeinatklas gevra, waar almal kon hoor. Dit was tot groot vermaak van die hele klas.
Dit was die eerste matriekafskeid in ons gesin. Ek’s bederf met uiteet en koffie in Kakamas se enigste koffiewinkel op daardie stadium, die middag van die matriekafskeid. En daai tyd het die Nelle nooit uitgeёet nie. Net as Marli verjaar het, omdat sy ‘n Spurkaart gehad het en met haar verjaarsdag ‘n “free kiddiesmeal” kon kry.
Ons woonplekkie op daardie stadium was oom Jan en tannie Ida se lekker huisie op die bult langs hul pakstoor. Ek onthou hoe my sussies die venster met swartsakke toegeplak het om die badkamer donkerder te maak. Hulle wou immers kerse en skuim doen…soos in die flieks.
Met Marietjie se matriekafskeid het tannie Lee’tjie weer so gemaak. Maar volgens tannie Lee en Mamma, was Marietjie se kleur wynrooi. Haar materiaal is ook vir haar uitgekies. Hierdie keer was die mooimaak en skuimbad by tannie Elaine-hulle se huis. Die Louw’s het immers van daardie mooi groot baddens. Marietjie kon haar geluk nie glo nie. Skuim, tamaai bad en vonkelwyn. Tannie Elaine en Ilse het uit hul pad gegaan. Marietjie se “date” was Stan, dieselfde man waarmee sy ongeveer vyf jaar later getroud is.
En toe kom Marli se matriekafskeid. Dit het net heeltemal te vinnig gekom. Sy is immers ons babatjie. Mamma en tannie Lee kon nie haar materiaal kies nie, maar tannie Marinda en tannie Ters en tannie Almari help genadiglik. Tannie Almari bied ook aan om haar rok te maak – met baie liefde. Soos net ‘n mamma kan. Ons is so dankbaar vir die aanbod.
Marli se groot dag breek aan. Ek bel haar vroegoggend, My hart is seer oor ek hierdie eenmalige geleentheid moet misloop. Marietjie is al dou-voor-dag oppad van Millerton af Kakamas toe. Sy sal my plek ok volstaan, verseker sy my.
Heeldag kry ek terugvoer van wat aan die gebeur is. Marli hou haar groot en slim, kla Marietjie. Sy gee selfs vir Pappa bevele in ‘n juffrou-stem, piep die foon al vroegoggend. Middagete is saam met tannie Ters en tannie Elaine, laat Marli my weet.
Laat namiddag kom die eerste foto’s van die volledige prentjie deur. Ek moet eers ‘n draai gaan loop om beheer te herwin oor my emosies. Sy lyk pragtig. Sy blom behoorlik aan Alwie se arm. En Mamma mis dit nou als, bly kom die gedagte terug.
Met ons gesprek vroegoggend het Marli vertel van die “charm” wat tannie Almari aan rok gewerk het. Dit was een van die “charms” van Mamma se stukkende armbandjie. Sy sou Mamma naby aan haar lyf dra. Heelaand.
Ek weet, maar niks kom naby daai laaste drukkie wat Mamma my gegee het net voordat ek Abrie met die bos blomme in die hand gaan ontmoet het nie. “Ou Surra, geniet dit net.” Die Red door reuk was nog lank daarna in my neus. Dalk hang dit vandag nog aan my bottelgroen matriekafskeid rok bo in my kas…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep