Ons eerste enetjie

Dit was ‘n Vrydagaand. My maag voel toe al vir so twee weke vreemd. Vriendin Emsie sms: “Jy moet ‘n swangerskaptoetsie gaan koop.” Ek sms vinnig terug, “Emsie dis regtig byna onmoontlik.” Lambrecht besluit dat hy die toetsie sal gaan koop. Niks is mos ooit onmoontlik nie.  Hy daag met twee “twin packs” by die huis op. “Clicks het ‘n ‘special’ op ‘twin pack’ swangerskaptoetsies,” verduidelik hy verskonend.
Ek besluit om eers ‘n lekker glas van Mareli se La Motte witwyn te drink voor ek die toetsie doen, want netnou is ek perongeluk swanger en dan moet ek wyn aflê. Lambrecht slaan ons eerste braaitjie buite op terwyl ek die toetsie gaan doen.
Ek dink ek het laas so die bewerasies gehad toe die polisie ons agtervolg het met ‘n uitslipsessie uit die koshuis, in matriek.
Lambrecht besluit om die res van die bottle La Motte self die bodem te laat sien. Van Heerden, sy broer, begin sms gelukwensings. Hy begin maak ook dadelik somme om te bepaal wanneer ons datum behoort te wees.
Ek lei aan algehele skok.
Die volgende oggend vroeg werk ek die volgende “twin pack” deur, voor ontbyt. Ons neem die helder pienk strepie af en stuur vir Van Heerden en Micha. “Dis beslis so,” bevestig Van Heerden ons vermoede. “ Oe dis wonderlik,” jubel Micha wat self swanger is. Ons word dadelik genooi vir tee en koek en kuier oor babas.
My Pofaddersussie is uit haar nate. My pa verklaar dat sy lyf reeds lankal al soos ‘n oupa sin voel. My skoonmense is stomgeslaan. En Wilma begin koop babaklere. Die oulikste pakkies met spikkels en kolle,selfs bypassende skoentjies.
Die eerste paar weke lei ek net aan skok. My denims wat knel om my middel frustreer my. Die reuk van koffie maak my naar en ek bly moeg. Ek sukkel om so opgewonde soos al die mense rondom  my te raak. In my kop waar alles netjies beplan en ordelik geskied, het ek werklik nie gedink ‘n baba sal so gou gebeur nie!
Woensdag gaan ons vir ons 12 weke sonar. Ons sien ons babatjie se hartklop…
En sedertdien is alles anders. My denims is nou weggepak. Ek het baie mooi nuwes by Woolies gaan koop. Ek verslind al skoonsus Soretha se bababoeke. Ek laat manlief toe om saans sy hande op my maag te sit en vir ons babatjie te bid. Ek begin omhels hierdie nuwe hoofstuk in ons lewens. En my hartsvriendinne, skoonsus Micha en die liewe tannies in my lewe, ondersteun ons wonderlik. Hulle is saam met ons uitbundig oor hierdie seën in ons lewe. Die Here was werklik vir ons ongelooflik goed!
Tannie Alba sms anderdag: “Suné, jul babatjie het nou ‘n beskermengel. Jou ma sal beslis weet.” En dit, tannie Alba, troos tog op ‘n manier…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep