Sy kan poësie
maak van die eenvoudigste oomblik.
(Kommentaar op Katinka Heyns se werk in die nuwe fliek
“Wonderwerker.”)
Ek gaan stap na werk ‘n draaitjie. Sommer net in ‘n poging
om kleur te kry op my lyf wat nou twee winters na mekaar deur is, eers ‘n
Engelse een, en daarna ‘n Suid-Afrikaanse een. My laaste stukkie stap is verby
‘n dubbelverdieping hoekhuis met ivy wat so al teen die een muur oprank. Die
huis se voorkant kyk uit op die 19de putjie van Boschenmeer Golf Estate se
gholfbaan. Op die stoep sit ‘n oom op ‘n strandstoel. Hy kyk ver uit oor die
gholflandgoed terwyl hy rustig teug aan ‘n glasie witwyn. Yskoud. Druppeltjies
water slaan uit op die buitekant van die glas.
Ek groet beleef. Dan wonder ek: Is daai oom se lewe volmaak.
Voel hy asof hy arriveer het.
Ek begin dink aan my pa. My tevrede Pa in die Boesmanland.
Ek het hom nog nooit op ‘n strandstoel sien sitlê nie. Buitendien sal hy nie in
daardie posisie kan sit nie. Sy rug is gedaan…van voersakke op en aflaai, van
graf grawe en graf uitbou. Hy wou mos daai November self my ma se graf grawe,
uitbou en toegooi. Op sy eie.
Ek het hom ook nog nooit so sien witwyn drink uit ‘n regte
witwynglas, vol ys nie. (Daar was buitendien nog nooit ys in soveel oormaat in
die Boesmanland nie.) Hy drink ‘n yskoue castletjie as hy baie moeg en baie
dors is. My man beweer daar’s nie nog ‘n man wat ‘n biertjie so vinnig kan
afsluk soos my pa nie. Net een, dan is hy vrede. In die winter sal hy ‘n glasie
soetwyn drink – net om die koue te verdryf.
My pa het net meisiekinders, maar hy sou dit nie anders
verkies nie. Ek onthou aande voor die
donkie, met ‘n rooster in die donkie met ‘n lewertjie en niertjie daarop. Vir
Pa en sy meisiekinders. Ek onthou die blou “overall” baadjies wat ons elkeen
gekry het – spesiaal vir uitstappies saam met Pappa veldtoe. My pa het ons
geleer van lammers vang vir lammersmerk. Hy was nooit eens vies as ons net wil
vang en nie wil vashou vir oorknip en die rekkie nie. Skaapbloed en piepie bly
grillerig.
Ek onthou die briefies wat my pa universiteit toe gestuur
het. Daar was stukkies rabbas (my gunsteling veldplantjie met so ‘n sterk reuk)
in na die eerste somersreëns. Ek onthou ook die tandemuisbriefies wat my pa geskryf
het – met netjies sketse van hoe sy “tande beddens” en stoele lyk.
My pa is nie ryk of geleerd nie. Maar my pa het lankal al
arriveer. Op Makkiesplaas is my pa presies waar hy hoort – na aan die aarde en
baie na aan God.
My pa is ‘n man wat ook poësie kan maak van eenvoudige
oomblikke.
Comments
Post a Comment