Vier jaar


Lambrecht kry my vanoggend op my lapbank, bene opgetrek. Ek luister na baie diep musiek. En my trane loop oor. Dit loop en loop sommer net sulke ongeordende voetpaadjies oor my gesig.

 “Is jy ongelukkig my engel?” vra hy onseker. “Wat maak jou so hartseer?”

 Dit voel so simpel om dit deesdae te sê – my ma vier immers Woensdag al haar vierde jaar in die hemel. “Ek mis my ma ontsagtelik Lambrecht. Ek het so baie vragies oor die seisoen waarin ek nou is. Sy sou alles verstaan en antwoorde hê vir alles.”

 My man kom sit langs my – onbeholpe. Hoe verstaan mens hoe dit voel sonder ‘n ma as jyself nog beide jou ouers het. Lambrecht het al geleer om nie te probeer troos met woorde nie. Sy wéés by my is heeltemal genoeg.

 Net voor hy opstaan van die bank af vra hy versigtig, “My engel, as jy nou een minuut met jou ma kan kry, wat sal jy sê?” Ek hoef nie eens lank te dink nie… “Ek sal haar sommer net vashou. Ek wil haar weer ruik en voel. Genadiglik het ek nooit nagelaat om ‘dankie’ en ‘Ek’s lief vir Mamma’ te sê terwyl sy nog met ons was nie.”

 

Briefie aan Mamma vanoggend…

 Dis Mamma se vierde jaar in die hemel. Ek het sommer net ‘n behoefte om ‘n briefie te skryf, soos altyd. Ek het alle briefies geërf wat ek oor die jare vir Mamma geskryf het. Ai, ek’s vandag so bly ek het so graag geskryf!

 Mamma, Rietjies en Stan is baie gelukkig op die plaas. Hulle bid maar net dringend vir reëntjies. Rietjies geniet die kleuterskool op Pofadder so baie. Sy is regtig gelukkig Mamma. Stan is ‘n baie goeie man vir haar. Mamma moet sien hoe mooi is hulle plaashuis. Lyk vreeslik baie na hoe ons Makkiesplaashuis altyd gelyk het. Haar ou tuintjie is ook ‘n lushof.

 Marli-kind is yslik groot. Sy’s pragtig Mamma. Sy doen so goed op skool. Ons is regtig trots op haar. Sy gaan volgende jaar Potch toe. Mamma moenie bekommerd wees oor haar nie. Ek, Rietjies en tannie Ters werk aan haar koshuisgoedjies, net soos Mamma met ons gemaak het. Sy sal dus goed voorbereid koshuis toe gaan. Sy sal nou nie so mooi duvet hê soos wat Mamma vir my en Rietjies gemaak het nie, maar ons probeer ons bes!

 Pappa is weer gelukkig Mamma. Hy maak weer simpel grappies. Hy lag weer so lekker soos altyd. Ek weet dis wat Mamma sou wou hê. Hy’s ‘n goeie man vir tannie Marinda en sy is regtig so goed vir hom. Tannie Marinda is ook baie lief vir ons Mamma. Sy doen regtig moeite met ons. Sy vreet ook bitter baie nonsense van ou Marlitjie op…Mamma weet mos hoe moeilik ek was in matriek. Marli is maar net so. Tannie Marinda kyk ook pragtig na die tuin. Daar is nog baie van Mamma se plante wat steeds pragtig groei. Maar Mamma, Pappa het nie van Mamma vergeet nie. Soms as ons op die plaas kuier en ‘n velddraaitjie gaan ry, raak Pappa nog hartseer oor Mamma.

 Ons sal seker nooit ophou verlang nie Mamma.

 Met my gaan dit goed. Mamma se laaste sms aan my was om te hoor of my highlites mooi gekom het. My hare het steeds blonde sonstrepies in soos Mamma my laas gesien het. Mamma, my Lambrecht-man is regtig ontsagtelik goed vir my. Dis so jammer dat jul nooit ontmoet het nie Mamma. Ek werk lekker en ons Paarl-huisie is heerlik. Lyndi, Wilma en Nico bly so naby aan ons en ons sien gereeld. Dis darem maar lekker om die  klompie nou so naby aan my te hê. Marietjie sê sy is skoon jaloers. Mamma, en dan verwag ons, ons eerste babatjie. ‘n Dogtertjie. Ja Mamma, ons gaan haar natuurlik na Mamma vernoem. Ek wens net Mamma was nog hier. Ek het so baie vragies oor babatjies Mamma. Ek mis Mamma meer as ooit. Rietjies het alreeds begin om ‘n lappop te maak. Pappa en tannie Marinda is ook baie trots op hul eerste kleinkind.

 Ai Mamma, Mamma moes darem maar vir Liewe Jesus gesê het Mamma wil nog ‘n bietjie langer hier op aarde bly. Mamma moes ons nog leer van troue hou, kinders grootmaak, hoe om ouma Niempie se hol vetkoek te bak en hoe om ‘n manshemp se kraag reg te struik.

 Soms wens ek ons tweetjies kan net nog ‘n keer dammetjie toe stap, of na die hek op oom Wiek se plaas. Net nog een keer.

 Ek mis Mamma regtig.

 Liefde

 Surra

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Comments

  1. Dink vandag aan jou...ek het nie woorde nie, ek stuur net vir jou 'n bitter stywe drukkie! Het jou gemis by MCM vandag!
    Jou woorde inspireer my, maak my rustig, maak my van vooraf verlief op ons taal en maak my trane vloei - elke liewe post! Dankie daarvoor!
    Baie liefde, Lize xxx

    ReplyDelete
  2. Elke fase van jou lewe gaan jy jou ma so baie mis. My kinders is groot. My ma het altyd gesê klein kindertjies - klein probleme, groot kinders - groot probleme. dis so waar. Ek is 51, my kinders varsity jongmense, en ek het so baie vrae wat ek wou vra. so baie nuwe geite van hulle wat ek nie weet hoe om te hanteer nie. Jou Ma is nooit lank genoeg op aarde nie. Ek mis my ma elke dag meer en meer.

    Sterkte, en gebruik die tannie naby jou om die ma rol te vervul. Ek is ook die ma van twee Indiers langs my, en help hulle met die kindertjies. Hulle slaap weekliks oor by ons.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep