Nie alle voëls kan vlieg nie en die verskil tussen
die twee is dat voëls
wat vlieg, geleer het om op te styg.
–Carl Sagan-
My man neem my vanmiddag na die pragtige Zorgvliet, halfpad
tussen Stellenbosch en die Paarl. Ons gaan piekniek hou vir my 28ste
verjaarsdag. Net ons twee. Ons sal my verjaarsdag Woensdag op die regte dag
saam met vriende vier. Maar vir nou, is dit net eers ons twee.
Ons pak ons piekniekkombersie wat nog uit ons Engeland-lewe
kom, ook in. Lambrecht gaan pik ons mandjie op terwyl ek solank die beste
skadukolletjie, eenkant en privaat uitsoek. Ek ontdek die perfekte plekkie. Dis
so half asof Jesus die kol vir ons uitgeboek het vir die middag. Dit is effe op
‘n hoogte en kyk uit oor al die ander piekniekgangers. Ek skop sommer dadelik
my skoene uit en speel bietjie met my tone in die gras. My Lyndi-vriendin het
altyd so graag kaalvoet op die gras gestap toe ons nog studente in Bloemfontein
was – “want die gras kielie my tone so lekker Suné’tjie,” het sy altyd as
verweer verduidelik.
Ek pak die mandjie kinderlik opgewonde uit. Ons mandjie het
van franse broodjies tot ‘n verskeidenheid kase en kouevleise, sondroogde
tamaties, en nog baie meer. Die nagereg is ‘n voortreflike “brownie” vir
elkeen.
So tussendeur happe piekniekkos begin praat ons, oor waar
ons nóú
is. Ek meet myself en bevind myself altyd te lig. Lambrecht meet ons en voel
altyd tevrede. Mens hoef nie altyd vorentoe te beur nie. Soms is dit oraait om
net op die bank uit te span met ‘n boek. Ons hoef nie noodwendig hierdie jaar
al ‘n huis te koop nie. Ek hoef nie nou al te weet wat ek gaan doen as ons
dogtertjie gebore is nie. Ons hoef nie nou al die antwoorde vir al ons vrae te
hê
nie.
Ons kan soms maar net in die nou wees en dit geniet. Waar
ons op ons piekniekkombersie lê hoef ek my nie al te bekommer oor
aandete of oor kersgeskenke of oor ons Sondagprogram nie.
Ek besef so op my verjaarsdagpiekniek dat ek dalk met ‘n
probleem sit. Ek’s so bang dat ek dalk nie vlieg nie, dat ek die vreeslike mooi
uitsig van my vlug mis. Ek mis soms baie…
Ek dink aan my Marietjie-sussie. Sy’s ‘n goeie vrou vir haar
man en sy woeker in haar gemeenskap. Sy’s tevrede met wat sy doen. Sy geniet
elke stukkie van die uitsig onder haar. Ek dink aan my Micha-skoonsussie. Sy is
‘n tuisbly-mamma met ‘n pragtige, goedgemanierde, dierbare klein dogtertjie. Sy
vlieg en geniet die uitsig. Haar tevredenheid maak hulle huis vol. Dit spoel
sommer oor na haar Van Heerden-man en klein Nina.
Mens moet waak teen nie vlieg nie. Maar waarteen mens selfs
meer moet waak is om te vlieg en nie die uitsig te geniet nie!
Comments
Post a Comment