Vyetyd op Makkiesplaas

Vyetyd het ons die grondpaadjie tuintjie toe puf gestap - ek het die voorvye eerste gewaar, want ek stap die graagste. Die tuintjie is so ongeveer 'n kilometer van ons huis af. Dan sou my pa een namiddag aankondig: "Ons kan vanmiddag gaan vye pluk. Griet, is jy reg vir konfyt kook? Het jy genoeg suiker." (My pa het my ma nooit op haar doopnaam genoem nie. Sy was altyd Griet vir my pa.)

My ma was 'n vrou van beplan en voorberei. Daar was altyd genoeg van alles in ons piepklein, oorvol spens. Van suiker, tot blikke vol beskuit en tuisgebakte kleinkoekies, tot ekstra Doom en blikkieskos. Net vir ingeval. Die suiker was dus nooit 'n probleem nie!

Dan is ons hele gesinnetjie op my pa se ou blou Toyota bakkie tuintjie toe. (Daai bakkie dateer uit die vroeë tagtigs, en my pa glo steeds dis die beste bakkie wat nog ooit gemaak is. Sy leeftyd is verewig.) Ons meisiekinders moes agterop staan. Ons het altyd van daardie blou Vodacom en geel MTN kêppies gedra wat normaalweg gratis uitgedeel is by skoue. Selfs dit kon nie voorkom dat die son vlekkies op ons al drie sussies se gesigte gelos het nie. Vriendelike sonvlekkies. Sproete klink so lelik!

By die tuintjie gekom het my pa eers die dam se  prop by die dam gaan uithaal sodat die akkertjies met die leivoor kon volloop so terwyl ons pluk. Dis mos nou sommer twee vlieë met een klap. Ons het ons hemde so ver van ons lyf af getrek en dan die geplukte vye as bakke gebruik. Pepstores hemde rek mos lekker. En buitendien het my ma nie omgegee as ons, ons Peppies hemde so ver rek as wat ons kon nie. Hoe lekker dit gerek het, hoe meer vye kon jy inlaai. My pa en ma het vye in bakke gepluk. My pa het die spogvytjies in sy blou Boesmanlandpetjie gesit, sodat ons dit later kon eet. My ma was immers bitter lief vir 'n lekker vars, yskoue vytjie.

Daardie selfde aand nog sou die hele gesin om die kombuistafel sit en help vye voorberei vir konfyt. My ma het haar heel grootste pot hiervoor gebruik. Dit was haar konfyt kook en afval kook pot.

Die eerste vars konfyt sou my pa op vars boerbrood met vet eet. Dan het hy sy oë so lank toegemaak en gesê, "Ou Griet, hierdie vyekonyt van jou is die tweede lekkerste ding op aarde."

Hy het ons tot vandag toe nog nie gesê wat die lekkerste is nie...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep