Dis 'n land


“Dis ‘n land van kleure en klank,
 dis ‘n land van oorvloed en dank,
dis ‘n land wat almal na strewe,
dis ‘n land sonder horison en,
dis ‘n land wat weet hy kan,
ook ‘n blyplek neerlê vir my.
                                                                   -Carike Keuzenkamp (Dis ‘n land)-


Gister staan ek in ‘n lang ry in Pick-n-Pay.  Die oom heel voor in die ry kan so my oupa se ouderdom wees. Hy dra nog lang rugbykouse soos my pa. Toe dit betaaltyd raak ruk hy sy tjekboek uit. Almal in die ry trippel ongeduldig rond. Die oom gebruik egter sy tyd om die tjek netjies uit te skryf. 

Ek staan verstom. Ek het nie eens geweet daar bestaan nog iets soos ‘n tjekboek nie!

 Ek het net twee pakkies maalvleis wat met rooi plakkers op “special offer” is wat ek moet betaal. Barbara, die kassier, gee die pakkies net een kyk en sê dan: “Jistie Mevrou, die is ‘n vreeslike goeie prys. Hulle was die ‘previous weekend’ nog ‘sixty rand’ ‘n pakkie. Ek gat vra dat hulle vi my ok van die ‘mince’ uithou.” Barbara laat my sommer lus voel om nog maalvleis te koop. Mens weet nie wanneer, indien ooit weer, mens so prys vir maalvleis gaan betaal nie!

Terwyl ek worstel om my kleingeld en strokie in my beursie te kry, help Barbara solank die swart meisie agter my in die ry. “Do you want a plastic?” Die swart meisie antwoord binnesmonds. Ek vermoed haar Engels is taamlik gebroke. “What?,” vra Barbara kliphard. Paar mense draai hulle koppe. “You need to speak harder.” Met ‘n effense glimlag neem ek my handsak en pakkies. Oppad uit hoor ek Barbara se stem agterna – “Mevrou moet ‘n liekker ‘weekend’ hê.”

 My gunsteling plek vir kruideniersware is die groot Checkers aan die einde van Lady Grey Straat. En ek probeer altyd om in Richard se parkeerplekke te stop. Want op ‘n Vrydagmiddag wanneer ek moeg is, en nie meer krag het vir vriendelik wees nie, kom groet Richard my altyd soos familie. “Middag Mevrou. Hoegannit?” En dan kry ek daai breë, joviale glimlag. “Mevrou, ek kan die kar mar ‘watch’?”

 Richard mag altyd die kar “watch.” Ek gee ook nie om, om meer as die normale te gee as dankie-fooitjie nie.

 Ek ontmoet Jacques onlangs deur werk. Hy is ‘n man met ‘n hart vir Paarl se hawelose mense. Hy probeer vir hierdie mense tuinwerk, verfwerk, straatvee werk, enigiets kry – net sodat hulle weer hul menswees kan terugkry. Elkeen van hierdie mense op straat het immers ‘n baie hartseer storie van hulle eie. Jacques moet soms uitstap en vir die groep van 20 hoopvolles voor hom sê: “Sorry manne, vandag het ek vir julle niks nie.” Anderdae het Jacques werk, maar sy bakkie gee probleme en dan is dit werklik ‘n saak van gebed om hierdie mense by hulle werk te kry. “ My bakkie weier om deesdae vroegmôre te ‘start’. Ek moet die ding regtig hande oplê voor elke keer se ‘startslag’. Maar prys die Here dat ek wel ‘n bakkie het.”

Jacques is altyd besig om die Here te prys vir dinge. Al loop alles verkeerd, Jacques sóek iets om die Here oor te prys.

Ons kuier op die plaas by my Pofaddersussie-hulle. Lena kom groet altyd sodra sy sien die bakkie is afgelaai. Sy weet immmers daar’s altyd vir haar Kaapse koekies en coke iewers tussen die pakkies. Lena en Piet het nie kinders nie, maar Marietjie en Stan se Tommie-hond (‘n dierbare platneus pug) is soos Lena se kind. Tommie gaan vroegoggend na Lena se huis vir soet tee en ‘n bietjie aandag. Anderdag vra Lena waarom ek en my man dan nie in die leë huis langs Marietjie-hulle s’n op die plaas kan intrek nie. “Nee Lena, hoe kan ons dan nou dit doen,” vra ek laggend. “Maar my nooientjie, ons familie, hulle bly almal so saam,” verduidelik Lena met ‘n frons. 

Ons land is inderdaad ‘n land van kleure en klank, van oorvloed en dank. Hierwees beteken dat jy daagliks God se beskerming oor jou huis en jou hartsmense moet bid. Dan moet jy omhels wat ons pragtige land met sy vlaktes, sy berge, sy woud en sy see kan bied. En sy mense, want sy mense maak dit ‘n merkwaardige land.




Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep