Pofadder mag maar skou hou


Donderdagnag ry ons Pofadder in, om middernag. Vir Pofadderskou.

 My Marietjie-sussie staan aan stuur van Pofadderskou se koffie kêffie. Haar ousus en kleinsus het besluit om kragte saam te span en ondersteuning te bied. Marli het heelweek gehelp met die kêffie voorbereidings – van spyskaarte skryf tot windpomp vlerke verf vir swartbord spyskaartborde.

 Vrydagmôre gesels ons nog wasem uit toe ons voor Pofadder se boereverenigingsaal wag dat oom Ghirrie moet kom oopsluit. Soos die vrouens arriveer kom laai elkeen eers ‘n koek of tert vir die kêffie af. Marietjie en haar twee oorywerige sussies (Ek was die een) en Anel spring dus toe Vrydagmôre weg by die koffie kêffie. Marietjie se spyskaartjie is tog te interessant…van moerkoffie tot ‘n Mocha. Van maaskaastert tot jaffels. Noem dit en ons het dit.

 Van laat slaap is daar sommer al Vrydagmôre nie kans vir my man nie. Sy swaer help immers septer swaai by die opgeslaande kroeg in die tent langs die boerevereninging se saal. En langs daai tent is die skaapkraal met die mooi spog skouskapies.

 Snaaks genoeg is ons “customers” Vrydag maar katvoet vir alle volksvreemde drankies op ons spyskaart wat bespuit word met room. Teen Vrydagaand is daar krisis in die koffie kêffie. Byna alle eetgoed is uitverkoop. Die laaste stukkie koek en tert het Minnet aan ‘n paar soettande saam met ‘n laataand moerkoffietjie verkwansel.

 Die baksters word ingeroep…nog ‘n appeltert van tannie Elize, nog ‘n maaskaastert van tannie Frieda, Retha offer ‘n sjokoladekoek en Alta beloof nog ‘n paar melktertjies. En sommer binne sekondes is die koffie kêffie weer gelaai met voorraad vir Saterdag. Ons sussies besluit om ook huiswaarts te keer om nog ‘n ou koekie aanmekaar te slaan.

 Manlief en sy swaer beduie hulle is nog nie klaar gekuier nie. Dis net een maal ‘n jaar skou, onthou. Ons bak koek en gaan kruip in, manloos.

 Saterdagmôre is my man nie lus vir opstaan nie. Hy’s moeg. En hy het gisteraand besluit Pofadder is ‘n bitter lekker plek met bitter lekker mense. Hy sal hier kan bly. Hy en Steyn en Willie en Abrie en Oom Pietie en Oom Ghirrie en ek weet nie wie nog almal nie, het mekaar gevind. Ek kry skoon snaaks. Pofadder is ‘n lekker plek, met mense sonder fieterjasies. Wat jy sien is wat jy kry. Niks aansit nie.

In ‘n sameweling waar mense al hoe blinker raak, is Pofadder soos ‘n vars briesie. Moenie aansit nie, wees net.

Saterdag kom bestel Alwie ‘n Mocha. Daarna bestel Erika ‘n “Hot Chocolate” met room daarop. En toe loop ons drankies met room daarop. Teen Saterdagnamiddag is Pofadder se skougangers taamlik geroom!

 Die skou sluit natuurlik af met ‘n hoogtepunt – die skoudans. Die boereverenigingsaal is stampvol. Aggenuys se jongmense het ook kom deurry. Op die spyskaart vir die aand is regte skou kos…jaffels, hamburgers, hotdogs en kerrie-en-rys. Om middernag dans ons, ons laaste draai in Pofadder se boereverenigingsaal.

Pofadderskou 2012. Ons was deel daarvan.

Skuins na middernag ry ons Millerton toe vir Sondagbraai saam met my pa en tannie Marinda en Marietjie en Stan. In die donkerte vergeet ek die pad van Pofadder af Millerton toe en ek laat my man ‘n paar onnodige draaie ry. Genadiglik is hy nog in sy skou bui…

Sondagmiddag braai Stan ‘n hemelse gevlekte skaapboudjie, met tuisgebakte brood, soetpatat gereg en aartappelslaai daarby. My gunsteling wortelkoek en koffie vir nagereg. Toe moet ons karpak vir huiswaarts keer. Maar hierdie Pofadderskou naweek pak ons sorgvuldig in ons skatkis met herinneringe. Dit is kosbaar. Ons sal beslis weer so maak. Want niemand hou skou soos Pofadder nie.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep