Wimpykoffie was iets wat ons altyd as student kon bekostig.
Ons moes mooi werk met die swaarverdiende sakgeld wat my pa elke maand in ons
Standardbank studenterekenings inbetaal het. Ek en Marietjie weet hoe werk
droogte op ‘n Boesmanland plaas as die niks kniehoog groei. Daarom het ons nog
altyd die grootste respek gehad vir my pa se geld.
Elke Vrydag na klas het ons vir ‘n namiddaguitstappie Mimosa
Mall toe gestap. Toe was dit oraait om nie ‘n kar te hê nie. Net baie rykmense se
kinders het karre gehad. Die res van ons moes maar stap. Ons ouers het darem
gesorg dat ons ‘n “pepperspray” het vir alle kilometers wat te voet afgelê moes word! Ons sou eers by
Pick-n-Pay aandoen vir die volgende week se inkopies voordat dit tyd raak vir
Wimpy. My en Marietjie se lysies was altyd baie eenvoudig. My ma het immers na
elke vakansie ‘n hele voorraad bakkies met gaar kos ingepak – dis nou van
bobotie tot gevriesde braaivleis en boerbrood. Dis nou buiten die ingelegde
konfyt, sousboontjies en koperpennie wortelslaai wat ook gebottel is. Vrydae
het ons dus net appels, melk, brood en kaas gekoop. Meer as dit was
spandabelrig en onnodig. (Ons het nooit eens wyn gekoop nie – my pa het selfs
daarvoor gesorg. Die boks met Oranjerivierwynkelders soetwyn het my pa altyd
gelaai as my ma nie kyk nie.)
En dan is ons met ons Pick-n-Pay pakkies Mimosa Mall se
Wimpy toe. Aanvanklik was dit altyd net ek en Lyndi. (Ons het mekaar in
Vergeet-My-Nie se badkamer ontmoet as verwarde eerstejaartjies. Later het ons
hartsvriende geword en ons soms Saterdagaande self in die kamer toegesluit vir ‘n
skelm wyntjie in ons koshuiskamer.) Ons het altyd die klein standaardkoffie
gedrink wat toe maar R5.50 gekos het. Later het my Marietjie-sussie by ons
aangesluit vir die ritueel.
Na universiteit neem Lyndi se lewe haar ‘n draai deur België. Ek trou
intussen en gaan skuur skouers met die Britte. En ‘n maand gelede is ons almal
terug in die sprokiesmooie Paarl.
Laas Saterdag sms Lyndi – ons moet ‘n koffie gaan drink.
Ek-weet-mos waar. Ons maak so, maar als is anders. Die koffie se prys het verdubbel
en dit smaak anders. Die plek is te
raserig en oorvol. Ons probleme lyk ook ietwat anders as agt jaar gelede. Ons
praat nie meer huisdans, mooi mansstudente met potensiaal of hoe swaar dit is
om ‘n student te wees nie.
Lyndi sms gister weer. Vir koffie. Maar die sms lyk effe anders as
die vorige keer. “Kan ons ‘n Wimpy koffie by ‘Mugg and Bean’ gaan drink? Niks
kom by Mimosa Mall se Wimpykoffie nie.”
En nou gaan drink ons vanmiddag ‘n Wimpykoffie by “Mugg and Bean.”
Soms moet mens grootgenoeg wees om terug te kyk en die lekker te onthou…en dan
aan te beweeg.
Dit hou die lewe interessant.
Comments
Post a Comment