Tyd vir Kersfees beplanning

Marietjie bel my einde November. Ons moet dringend gesels. Kersfees kom vinnig nader. Wat het ek ingedagte vir die kerstafel en kersete?

Die wind is effe uit my seile. Ek sukkel nog met my nuwe lyf, die Paarl se hitte wat minder aangenaam is en 'n paar ander dinge. Ek's nog glad nie by Kersfees of ons kersete nie. Ek weet dit kom nader. Checkers se kersliedjies en spesiale aanbiedinge of Whiskey sjokolade en 'n paar ander dinge herinner my daagliks.

"Uhm, ou Tieks, ek het nog niks gedink nie, maar wat het jy en tannie Marinda gedink?" Kersfees sal immers op Makkiesplaas wees. Pappa en sy meisiekindes en tannie Marinda en haar meisiekinders. En waarskynlik 'n feestelikheid met baie kos!

"Ons het 'n hele lysie Surra. Ons het ook sommer uitgedeel wie wat moet doen. O ja, en jy is in beheer van tafeldek. Jy hou mos daarvan. Kry gou 'n pen en papier en dan skryf jy neer wat jy moet maak." Pure juffrou!

Ek hoor hoe lekker ons kerstafel gaan wees. Van skaapboud en hoenderboudjies tot 'n verskeidenheid slaaie en "trifle." Regte, outydse "trifle." Jy beindruk nie my pa met 'n fênsie oudjie met room en neute op nie. Hy moet lyk soos die een wat ouma Ans jare gelede vir haar ses kinders opgedis het. Ek moet asseblief ook pasteitjies saambring. Dit moet asseblief spinasiesoort wees, want kleinsus Marli (Wat deesdae oor-gesondheidsbewus is) voel dat ons niks groente op ons kerstafel het nie! Ek klik net my tong en verseker Marietjie dat ek beslis nie spinasie sal koop nie. Net Marli sal spinasie eet. Ek dink die kaasnommertjies is meer gepas vir Kersfees. Ek moet ook sousboontjies saambring. Pappa is blykbaar ontsagtelik lus vir sousboontjies. Maar ek kan ek dit koop. Die voriges wat ek gemaak het was nog bietjie hard, verduidelik Marietjie baie diplomaties. En buitendien is R22 vir 'n pot sousboontjies nou darem nie te uitspattig nie!

Dis reg, kry ek tussen in kans vir praat. Ek sal sorg vir sousboontjies, hoenderboudjies, kaaspasteitjies en 'n baie mooi tafel. En daarmee is Marietjie tevrede en die gesprek is afgehandel.

Gister gaan loer ek in by Jacques en Dorien. Hulle is in beheer van die hawelose projek in die Paarl. En vandag hou hulle kerspartytjie vir die haweloses. Ek vra natuurlik heel eerste wat op die spyskaart is. Nik Naks, Coke, Kerrie-en-rys en cupcakes, vertel Jacques entoesiasties terwyl Dorien vir elkeen 'n kerspakkie toedraai. In die pakkie is 'n tandeborsel, tandepasta, chips, koekies, onderarmrol, spuitgoed, seep en 'n skeermes.

Ek dink aan ons eie kerstafel. Ek dink aan die roomysbakke kos wat oorbly nadat ons, onsself ongemaklik geëet het. Ek dink aan die klomp geskenke, nooit grotes nie, wat oukersaand onder ons boom met liggies uitgedeel word.

Ek weet ek hoef nie skuldig te voel oor ons kerstafel nie. Dis hoe God ons Nel-familie seën. Ek besef net dat ons dankbaar moet wees. Dankbaar oor ons oorvloed. En waar dit op ons harte gedruk word om ook te gee of iemand se lewe beter te maak...durf ons nie huiwer nie!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep