Dinsdagmiddag skuins na een sit ons twaalf
mense rondom houttafels onder die peperbome by ons voordeur. Daar’s ‘n effense
briesie in die lug. Dis Kersdag. Ons vier Jesus se verjaarsdag soos so baie
ander mense regoor die wêreld.
Ons tafel is wit en rooi. Rondom elke wit
servet is ‘n rooi selfgemaakte vilthartjie gebind. Ons doen nie hierdie jaar
“crackers” nie. Onder elkeen se bord is darem ‘n Woollies kersfeespaaseier.
Woollies stel geensins teleur met hul produk…en dit ten spyte van die feit dat
die eiers al die pad van die Paarl is en al meer as een keer gesmelt het! Tot
ons groot vermaak is daar in elke eier se papiertjie ‘n “sticker.” Ons plak dit
sommer op ons voorkoppe. Dit lyk inelkgeval net so bespotlik soos die
helderkleurige krone in ‘n standaard “cracker.”
Ons dra die kos vinnig op met tafelnetjies.
Die vlieë is lam en lui van die effense hitte in
die lug. Hulle vlieg sommer traag op as jy hulle durf afwaai van ‘n
hoenderboudjie of stukkie tong. Mens sukkel om te besluit of hul net traag is,
of traag én arrogant. Ook die
muskiete het ‘n uitermate arrogansie oor die kersgety. Almal smeer eers dik lae
tabard voordat hulle uitwaarts keer vir die kersete onder die peperbome.
Almal het ‘n klein bydrae gelewer tot ‘n
erg mooi en lekker kersete. Tannie Marinda se skaapboud is perfek gebak. Tannie
Esmé se tong proe ook soos iemand sin wat ken
van tong gaarmaak. My mostert daarby loop mooi. Marietjie se klein gemarineerde
ribbetjies is ‘n treffer, net soos Stan se rolrib. Ek het darem so paar
hoenderboudjies uit die Paarl aangery ook – net dat ons nie net skaapvleis aan
tafel het nie!
Die stokkies en kaaspasteitjies is vir
Marietjie ‘n absolute hoogtepunt – dit ten spyte van soveel baie ander baie
lekkerder eetgoedjies.
Aan die slaaie is ook geen tekort. Tannie
Marinda se ongelooflike koperpennie wortelslaai, asook haar bitter lekker
noedelslaai met ‘n prikkie. Dan is daar ook tannie Esmé se heerlike aartappelslaai en my (gekoopte) sousboontjies.
Die kersmaal word afgesluit met ‘n
hoogtepunt…Marli se “trifle.” My pa was nog altyd sommer lelik omgekrap as daar
nie tradisionele “trifle” is vir nagereg na die kersete nie. En Marli sin stel
geensins teleur nie. Buiten die “trifle” is daar nog roomys met vrugtekoek
daarin óók.
Na ete voel almal onvergenoegd geëet. Ek kan dit sien op die moeisame manier waarop almal van die
tafel opstaan. Jy voel swaar en warm en ooreet. En teleurgesteld in jouself. Jy
kan amper nie glo dat jy ten spyte van die mooiste voornemens, jouself weer
vergryp het, soos elke ander jaar nie!
Ons was die berge skottelgoed mooi vinnig
klaar. Vele hande maak mos genadiglik ligte werke. En dan gaan soek almal ‘n lêplek naby ‘n waaier. Almal slaap natuurlik hopeloos te lank. Ons
“verslaap” belangrike kuiertyd. Maar al wat help vir ‘n ongemaklike magie, is
‘n bietjie slaap. Skuins na vyf is almal weer voltallig vir laaste kuier op die
voorstoep. Tannie Marinda kom vra gaaf soos altyd wie wat wil drink.
Minute later kom stap sy uit met die
skinkbord. En dan ‘n waatlemoen, melktert en kolwyntjies. Almal sug. Almal voel
steeds so versadig. Hoe kan sy nog eetgoed uitbring?! Dit neem nie lank voor
elkeen met ‘n stukkie melktert sit nie. Tevrede. Ons eet alweer.
Maar Kersfees is een dag in die jaar wat
mens maar kan geniet, besluit ek oppad huistoe. Ek sal nie verder skuldig voel
oor die ooreet pyn op my maag nie. Dis immers eet en kuier saam met dié waarvoor jy die heel meeste omgee – en dit gebeur alleen maar een
keer ‘n jaar.
Comments
Post a Comment