Na ons kersmiddagslapie gaan sit ons lui op die voorstoep. Dis tyd vir lysie maak.
(My absolute gunsteling aktiwiteit in die wêreld – tot my man se irritasie.) Ons baba-sussie gaan eersdaags
Potch toe vir haar eerste studiejaar. Ons moet haar help met ‘n lysie van
belangrike inpakgoed, koopgoed, kosgoed en ander onthougoed. My pa sit by. Hy
wil darem ook insette lewer.
Ek kan byna nie glo haar tyd het aangebreek
het nie. Dit voel net soos anderdag nog toe sy haar gunsteling armband vir my
kom gee het – oor ek so gehuil het toe ek voor my nuwe koshuis afgelaai is in
Bloemfontein. Rou eerstejaar uit die Boesmanland. Alles maak jou bang. Die baie
mans, die kwaai seniors, die baie karre en mense, die min vlaktes en stof.
Nou is dit egter Marli se beurt. Potch toe.
Ons begin by kombuisgoedjies. Sy moet ‘n
braaipan kry. Ons het graag Sondagvleis in ons braaipanne gebraai. Net baie
spesiale vriendinne kon saam eet. Sy moet ook ‘n klein Pep Stores pannetjie en
potjie kry, stel Marietjie beslis voor.
Sy het nog tannie Ria se geërfde
pannetjie gehad. Sy het graag roerbraai of eiers daarin gemaak. Sy’t ook nooit
haar eie potjie gehad nie, noem Merietjie so half verwytend. Sy het maar myne
kom leen. Arme middelkinders. Ek onthou net hoe sy my potjie vieslike
aangebrand het met haar eerste krummelpap poging. Marli kort ook ‘n
asdrommetjie, borde, messe, vurke en nog ‘n handjievol goed.
Dan moet ons ook ‘n kruideniersware lysie
maak. “Pa sal ‘n ou slagdingetjie slag om saam te vat. Pa dink jy moet ‘two minute
noodles’ ok saamvat. Dit maak mos maklik
gaar. Pa sal sommer vir jou ‘n boks noedels koop,” lewer my pa ‘n
besorgde inset van die kant af. Sy grootste vrees was immers nog altyd dat ons
sal hongerly. Marli kyk gesteurd van
haar lysie op. “Pa weet hoe klein is ons kamers. Daar’s régtig nie plek vir ‘n boks ‘two minute noodles’ nie. En ek eet
‘anyway’ nie eens ‘noodles’ nie.”
Ek en Marietjie beloer mekaar onderlangs.
Kleinsus eet mos net ‘Low GI.’ Vragte vrugte en joghurt vir onbyt, ietsie
slaaierigs en ligs vir middagete as dit kan, en beslis ook nie iets tè
swaar vir aandete nie. Beslis nie ‘n snytjie brood met kaas vir aandete soos
ons maar altyd gemaak het nie. Sy sien wel kans vir pro vitas. Dis blykbaar
‘Low GI’.
“Sy sal vinnig oor daai ‘Low GI’ kom volgende
jaar. Studente kan nie vragte vrugte bekostig nie. Daar’s net geld vir piesangs
en appels as jy gelukkig is. En mens leer eet bitter vinnig brood. Sommer vir
enige ete,” fluistersê Marietjie terwyl kleinsus haar lysies gaan wegsit vir
later se inpak.
Ons is saam met jongste opgewonde oor haar
nuwe avontuur. Studentwees is tog een van die mooiste hoofstukke in jou lewe.
Sorgvry en mooi. My onthoue van studentwees in Vergeet-My-Nie, Bloemfontein, is
van my kosbaarste besittings. Ek en Marietjie was sussies, maar ook maatjies
wat Sondae saam braaipantjops om die koshuislessenaar geëet het. Sy was my “co-driver” as ek agter ons silwer karretjie,
Maansie se stuurwiel ingeklim het. Sy moes altyd eers vooraf uitklim en help
beduie hoe ek moes parkeer. Sy het help troos as nog een van my blitsige
romanse met een van die universiteitsbrekers op die rotse geloop het.
Ons wense vir Marli is dat haar nuwe
koshuiskamer gou sal voel soos huis met Marietjie se laslappie duvet en tannie
Ters se kwilt. Ons hoop haar kamermaat sal ‘n plaaskind wees wat ook hou van
braaipantjops en ontdooide roosterkoek met gesmelte kaas en biltong. Ons hoop
Marli sal leer dat daar meer aan die lewe is as “Low GI.” Ons hoop haar paaie
sal kruis met inspirerende mense en wonderlike mentors.
Ons
hoop en bid dat Marli se skippie sal gaan váár, want ‘n skip is veilig in die hawe, maar ‘n skip is beslis nie
gemaak vir staan in die hawe nie. Dis gemaak vir vaar.
Comments
Post a Comment