Boerbeskuit en kondensmelkkoffie
Ons arriveer skuins na middernag in Kakamas. Sommer met die afklimslag waarsku ek: Ons soek nie koffie of tee of koeldrank nie. Ons soek ‘n bed, want ons is gedaan. Ek het mooi wakkergebly – al die pad van die Paarl af tot by Garies. Toe kan ek nie meer nie. Ek moet bieg – ek het geëet om wakker te bly.
As my kieste nie kou nie, trek my oë na mekaar toe! By Garies was ek eenvoudig moeg geëet én moeg wakkergebly.
Kort anderkant Marchand maak my man my wakker uit ‘n diep en gelukkige slaap. “My engel, ons is nou amper in Kakamas.” Hy gee my normaalweg kans om die ergste slaap uit my oë te kry en net ordentlik te ontwaak. Ek sms my pa dat hy maar solank die elektrise hek kan begin oopmaak. Ons wag vir ‘n wyle voor ‘n toe hek in ‘n slapende dorp, voordat ek my Marietjie-sussie bel.
Die hek skuif dadelik oop. Sy ontmoet ons by die voordeur in haar kort, wit somersjaponnetjie. Ons twee sussies en my ma het dit een jaar saam by Mr.Price gekoop. Dit het nog sulke koddige wit pantoffeltjies bygehad. Marietjie is opgewonde om ons te sien. Soos altyd. Al is sy effens deur die slaap. Sy maak verskoning dat haar man nie gaan opstaan nie. Nie eens vir ‘n laatnag sigaret en koffie saam met sy ou swaer nie. Hulle tweetjies kan môre inhaal. Hy’s regtig moeg gewag!
Net toe kom my pa sleepvoet en kwaai deur die slaap uit die slaapkamer. Hy maak heeltyd verskoning. Hy het nou spesiaal vir ons koms wakkergebly. En toe gaan staan en raak hy nou aan die slaap knap voor my sms. Hy’s so teleurgesteld in homself, kan ek sien. “Dis regtig niks nie Pappa. Ons kan almal nou gaan slaap. Ons is regtig ook moeg.”
Dit lyk of my pa nie gehoor het wat ek sê nie. “Sit die ketel aan ou Rietjies. Bring daai lekker boerebeskuit wat jy saamgebring het. Ou Lambrecht, kry vir jou ‘n stukkie pizza uit die yskas. Tannie Marinda het gemaak. Dis diep lekker. Julle lyk so dun vir Pa.”
My pa is altyd so bang ons is honger/ly honger. Dis die dat hy half 2 Saterdagmôre sekermaak dat ons ‘n ietsie eet voordat ons bed toe gaan. Net vir ingeval ons dalk mag honger wees…
Sondagoggend na ontbyt moet ons weer in die pad val Paarl toe. Ons het immers net vinnige kom saam troue hou. Die Visser-nefies het ons nog altyd bitter na aan die hart gelê. ‘n Vinnige “trippie” Noord-Kaap toe vir W.P se troue, was dus ononderhandelbaar. En dit was beslis die moeite werd!
Almal is Sondagoggend traag om op te staan. Die troue was te lekker. Ons verseker tannie Marinda dat niemand sin vir ‘n tamaai ontbyt nie. So sit ons almal skuins na 9 om die ontbyttafel – met kondensmelkkoffie en beskuit. (Om een of ander rede het my pa daarop aangedring dat daar ‘n blikkie kondensmelk oopgemaak word vir die koffie. Hy’s lus vir see-koffie. Ons het dit altyd net so gedrink as ons vakansies by die see was. Vandaar die naam.) Die beskuit is ‘n heerlike verskeidenheid: Marietjie se boerbeskuit, tannie Keppies se karringmelk en tannie Marinda se gesondheidsbeskuit.
So met die groetslag nooi my pa ons vir die 1000ste keer om saam met hulle ‘n Sondagbraaitjie te maak. Ek verduidelik vir die 1000ste keer kwaai dat ons nooit die pad Paarl toe gaan maak as ons slaaptyd Sondagmiddag met ‘n vol maag, die pad aandurf nie. Ek sien my pa verstaan steeds nie, maar hy druk nie verder op nie.
Ons groet my kosbare Pa, sussies, tannie Marinda en babasussie met die smaak van kondensmelkkoffie en beskuit nog vars in ons geheue. Knap anderkant Pofadder sms my pa: Surra, julle het nou die biltong vergeet wat Pa spesiaal vir julle gekerf het…
Comments
Post a Comment