Die tyd vlieg

Ek raak oud, besef ek met ons onlangse kuier op Makkiesplaas. (Ek ken die storie van ouderdom is ‘n relatiewe begrip. Nogtans.) Ek stap na die gronddammetjie so half kilometer van ons huis af. Ek wil alleen gaan. Ek tel eers plat klippies op om te sien of ek nog ‘n koppie en piering kan gooi. Die genoegdoening van my eerste volmaakte koppie, piering en teelepel sal seker net ‘n goeie gooier kan begryp. Dan stap ek na die inloop van die gronddammetjie. Dit maak sulke lekker hol inspoelplekke wat altyd ons huisies was. Ek gaan sit in die grootste “huisie.” Hier moes my Wilma-vriendin ‘n veltie vang in St.2. Die gedagte het haar glad nie aangestaan nie. Daar was nie uitkomkans nie. Haar nood was groot en die huis ver.

Ek kry ‘n wit kaartjie waarop in koningsblou ‘n versie geskryf is in sierskrif. Agterop het Liezl in haar mooiste handskrif geskryf: Ek is lief vir jou. Dis baie oud, St.3 oud. Die kaartjie is waarskynlik by Kakamas se Christelike boekwinkel gekoop. Dit was een van ons gunsteling plekke om op Woensdae se afloopdae te gaan. Ek het baie soortgelyke versies en briefies van Marné en Wilma. Dit sit my wit bybel vol. Die bybel is eintlik my lewensverhaal. Ek het intussen soveel nuwes en mooiers gekoop. As ek my weer kry sit ek met my bybel met die baie versbriefies op my skoot. Die een wat ek van Oupa en Ouma gekry het met my geboorte. Dis wat die sierletters voorin sê. Op ‘n stadium was alles wat saakgemaak het mos in sierskrif gedoen!

Ek vra my laatlam stiefsussie, Nasya, of ek haar Barbiepoppe vir haar kan aantrek een aand voor die televisie. Sy kyk my vreemd aan. “Hoekom,” vra sy suspisieus. Ek besef amper-dertigjariges trek nie meer Barbiepoppie aan nie. Al was jy mal daaroor. Ons kon ure lank by my Anneen-niggie in Upington Barbiepop speel. Hulle het selfs Ken’s gehad. Elkeen kon dus ook aanspraak maak op ‘n man. Vandag wonder ek soms waarom ek nie maar net enkellopend wou wees nie. Ons Barbiepoppe se mans het altyd name van rugbyspelers gehad. Veral “Joost” was uiters gewild.

Liezl laat weet ons moet begin reünie reël. Die langnaweek in Augustus kom vinnig nader. Ek verteer die inligting moeilik. Kan dit wees? Ons het dan net anderdag nog in mnr. Jorrie se klas gesit en sy aandag probeer aflei van die skoolwerk met rugbygeselsies. Juf. Hannie het net gister nog geraas dat ons soos motte teen die muur sit…opinieloos. Dit was alles nog gister. Nou is ons grootmense.

“Al lê die berge nog so blou” speel oor die radio. Ek sien myself om een of ander rede op die foto’tjie wat geneem is die dag voor my eerste skooldag. Ek het ‘n tuisgemaakte blommetjiesrok aan. Die kragie sit wit en breed om die nek met so breë wit belt om die middel. Sproetjies lê spore oor my hele gesig. Dit was net gister.

My pa sms gisteraand om te hoor hoe dit met sy kleinkind gaan. Ek sms terug dat sy my vandag moeg gemaak het. Sy wil aanmekaar gesels. Sy slaap nie meer heeltyd nie. Sy’s ‘n kletskous. My pa sms etlike minute later terug: Ou Surra, los maar die huiswerkies. Gesels maar! As jy 50 is het jy ‘n behoefte na gesels en dan sit sy in die Paarl.Xx

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep